Daadwerklike ingryping by staatshospitale is nou nodig

2019-10-30
Die Redaksie

"Daadwerklike ingryping moet onmiddellik op ‘n uiterse hoë vlak plaasvind om die krisis wat tans in staatshospitale heers, uit te wis. Dit het vandag aan die lig gekom dat daar in 2018 meer as 3 832 sterftes in Gauteng se hospitale was weens mediese nalatigheid," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.

"Die VF Plus waarsku al ‘n geruime tyd oor die toestand van die land se openbare hospitale en die tyd het aangebreek dat daar daadwerklike pogings van stapel gestuur moet word om die dodelike krisis op te los wat duidelik buite beheer is.

 

"Die feit dat Suid-Afrika se openbare hospitale ontaard het in slagpale en lykshuise kan en mag nie langer geduld word nie en die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nie die antwoord om hierdie probleem op te los nie."

 

"Personeel by staatshospitale moet oor die weg kom met bykans geen werkende toerusting nie en daar is voortdurend ‘n tekort aan noodsaaklike medisyne.

"Die onderbesteding van die departement van gesondheid van sowat R1 miljard in die 2018/19 boekjaar is ‘n skande en ‘n klap in die gesig van die Suid-Afrikaanse publiek. Dit dien opnuut as bewys dat die ANC-regering geen gevoel het vir die land se mense nie.

"Die huidige krisis is besig om onbeheerbaar te raak en daadwerklike, uiters dringende stappe moet nou geneem word om die probleem op te los," sê van Staden.

 

PhilipVanStadenGesondheid

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!