Covid-19: Herstel nou belangriker as ‘n verlengde inperkingsvlak

2020-09-16
Die Redaksie

"Die nasionale Covid-19-inperking se verlaging na vlak een was te wagte, maar Suid-Afrika het ekonomiese herstel nou meer nodig as enige onnodige inperkingsmaatreëls. Die VF Plus se standpunt is steeds dat alle inperkings met enkele uitsonderings ná, opgehef moet word," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

"Daar is verstaanbare uitsonderings soos ‘n verbod op massa-sportbyeenkomste en beperkings op reise na en van lande met ‘n aansteeklikheidsrisiko.

"Verskeie sektore soos die gastebedryf wat grootliks van toerisme afhanklik is, asook die restaurant-, rolprent- en kunstebedrywe, voer tans ʼn desperate stryd om oorlewing en dit is belangrik om hulle van finale ondergang te red.

"Die aandklokreël en beperkte handelstye kon nie meer bekostig word nie. Die nuwe spertyd wat geld vanaf middernag is nog een van die regering se onverstaanbare maatreëls wat nie sin maak nie. Dit is ook nie duidelik op presies watter sektore dit van toepassing sal wees nie.

 

"Daar is nou belastingverligting vir private persone en sake-ondernemings nodig om besteebare inkomste te bewerkstellig om groei post Covid-19 te verseker. Die hele Suid-Afrika is ‘n ekonomiese sone en moet so behandel word. Die ekonomiese stimiluspakket wat die regering in April aangekondig het, is onvoldoende. Beleidsekerheid is nou van die grootste belang."

 

"Maatskaplike ingrypings soos die WVF-TERS-fonds en die maatskaplike verligtingstoelaes is onvolhoubaar en sal die ekonomie nie op die langtermyn herstel nie.

"Dit was te wagte dat internasionale vlugte hervat sou word met beperkinge op die lande vanwaar die mense kom of mag heen reis, aangesien daar wel lande is soos Indië en Brasilië waar infeksies weer toeneem. Lande moet streng gekategoriseer word volgens hul risikovlak.

"Daar moet in gedagte gehou word dat Suid-Afrika nou na sy somerseisoen beweeg en lande in die noordelike halfrond hul koue winterseisoen binnegaan wat dié lande volgens wetenskaplike inligting meer vatbaar maak vir die verspreiding van die virus.

"Dit sal ʼn groot inspuiting wees vir Suid-Afrika se toerismebedryf en sal ʼn broodnodige bydrae lewer tot die land se ekonomie. Daar sit duisende Suid-Afrikaners plaaslik gestrand wat hul inkomste oorsee verdien en wat tans nie mag reis nie.

 

"Dit raak toenemend duidelik dat die publiek hom al hoe minder steur aan die bestaande inperkingsmaatreëls."

 

" ʼn Voorbeeld is die begrafnis van die ANC-veteraan Andrew Mlangeni wat verlede maand oorlede is. Hier het die ANC self die reëls oortree en niemand is vervolg nie. Die maatreëls is duidelik besig om in ʼn klug te ontaard.

"Dit is wel belangrik dat die publiek steeds die nodige maatreëls tref om hulself teen die virus te beskerm, maar dit het nou ook tyd geraak dat alles moontlik gedoen word om die ekonomie weer op dreef te kry en na normaal terug te keer.

"Die president se beroep op Suid-Afrikaners om aan die Jerusalema-dansuitdaging deel te neem herinner aan Marie Antoinette wat gesê het die armes moet koek eet. Vir die president om te sê Suid-Afrikaners moet dans terwyl die land in 'n ekonomiese depressie is, sonder dat hy enige werklike plan aankondig om ekonomiese herstel te bewerkstellig, is uiters teleurstellend," sê Groenewald.

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosa#Covid19SA#Level1

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!