Die VF Plus is soos ander Suid-Afrikaners trots op dit wat Charlize Theron as internasionale aktrise vermag het. Veral haar verowering van ʼn Oscar vir beste aktrise in die rolprent Monster.
Haar jongste uitsprake oor haar moedertaal Afrikaans, dat net 44 mense die taal nog praat, maak dit egter duidelik dat sy nie op hoogte is met wat in haar geboorteland aangaan nie. Die VF Plus sal haar graag wil reghelp.
Die party vermoed selfs dat meer mense in Charlize se tuisdorp, Benoni, Afrikaans praat as enige ander taal.
Hier is die feite soos weergegee deur Statistieke Suid-Afrika se 2019-Algemene Huishoudelike Peiling (General Household Survey – GHS) oor die gewildste en grootste tale in Suid-Afrika (afrikaans.com).
Die statistiek word gegrond op die tale wat die meeste binne en buite die huis gepraat word, insluitende skole en die werkomgewing.
• Nommer 1: 25,3% mense praat Zoeloe tuis.
• Nommer 2: 14, 8% mense praat Xhosa tuis.
• Nommer 3: 12,2% praat Afrikaans tuis.
Engels neem met 8,1% ʼn beskeie sesde plek in as huistaal.
Die feit dat soveel mense Engels as omgangstaal buite die huis gebruik, is vanweë ʼn institusionele taal-dwangbuis wat die ANC-regering geskep het om ʼn uitheemse taal te probeer verhef tot die algemene spreektaal van alle Suid-Afrikaners.
Ná bykans 30 jaar lyk dit egter of die Engelse perd nie goed doen met sy sesde plek nie.
Dit is ook duidelik dat elke moedertaal in Suid-Afrika geliefd deur haar gebruikers gekoester word.
Nie alle tale is wêreldtale nie. Dit maak dit nie minder geliefd onder die mense wat dit praat nie. Dit is ʼn harde realiteit en dit is hoe dit hoort.
Charlize kan eerder oorweeg om in Suid-Afrika in ʼn rolprent in haar eie taal te kom speel synde rolprente met byskrifte in Engels se gewildheid toeneem en ook begin om mee te ding vir Oscars.