BLF finaal gederegistreer as politieke party ná VF Plus-optrede

2019-11-05
Die Redaksie

"Die politieke party Black First Land First (BLF) is finaal gederegistreer as politieke party. Die Kieshof van Suid-Afrika het gister die BLF se appèlaansoek teen sy deregistrasie in Julie vanjaar finaal van die hand gewys," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Ingevolge artikel 16(1)(c) van die Wet op die Verkiesingskommissie (Wet 51 van 1996) mag die OVK nie 'n politieke party registreer wat lidmaatskap op grond van ras, kleur of etnisiteit uitsluit nie. Die BLF se grondwet bepaal in artikel 4 dat slegs swartmense lede van dié party mag wees.

"In sy appèlaansoek het die BLF onder meer aangevoer die bewoording in sy grondwet dat slegs swartes deel mag wees van die party, is verkeerd vertolk en dat mense van ander rassegroepe wel as swart gesien kan word.

"Die VF Plus het aangevoer die BLF het deur sy leier, Andile Mngxitama, dit deurgaans duidelik gestel dat wittes nie as lede by die BLF mag aansluit nie. Dit is so onder eed verklaar en ook in verskeie media-onderhoude gesê.

"Mngxitama het in sy aanvanklike opponerende verklaring vroeër vanjaar, soos geliasseer gedurende die VF Plus se aansoek by die Kieshof, onder eed bevestig dat die BLF se grondwet witmense op grond van ras uitsluit.

 

"Die deregistrasie van die BLF as politieke party is ‘n oorwinning vir die ganse Suid-Afrika, omdat die rassehaat en onverdraagsaamheid wat deur Mngxitama en sy trawante aangevoer en voorgestaan word, nie geduld mag word nie."

 

"Die geslaagde aansoek is ook ‘n oorwinning vir wet en orde. Die VF Plus het hierdie saak sedert Januarie vanjaar aangevoer in die belang van wet en orde.

"Dit is nogtans steeds kommerwekkend dat die OVK met die registrasie van die BLF die wet oortree het. Wetgewing mag nie slegs as riglyne gesien word nie, maar moet aan voldoen word. Niemand is verhewe bo die wet nie," sê Groenewald.

 

DrPieterGroenewaldBLF

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!