Beurtkrag: ʼn Voedselkrisis word tans vervaardig danksy ANC-regering

2023-01-19
Dr. Wynand Boshoff

Korttermyngevolge van beurtkrag is welbekend: Verlaagde nywerheidsuitsette, persoonlike ongerief en munisipale watertekorte is van die opvallendste.

Rekordhoë voedselpryse en selfs voedseltekorte is moontlike gevolge wat verder die toekoms in lê.

Tydens die jare 80 toe elektrisiteit volop was en die destydse Evkom in infrastruktuur belê het, is die landbou grootliks geëlektrifiseer.

Nuwe moontlikhede, soos die grootskaalse grootmaak van braaikuikens, duisende hektaar onder spilpuntbesproeiing, die uitbreiding van vrugteboorde en klimaatbeheerde kweekhuisproduksie kenmerk Suid-Afrikaanse landbou sedertdien.

Sonder elektrisiteit is besproeiing beperk tot vloedbesproeiing. Dit stel minder grond beskikbaar (dit moet stroom-af van 'n dam of kanaal wees) en vermors water, terwyl grondgehalte vinnig afneem.

In landbou is die produksiesiklus op die kortste ses weke, maar meer dikwels maande of selfs jare.

Braaikuikens of groente wat tydens die afgelope twee weke se kragonderbrekings gevrek het, gaan oor etlike weke in die mark afwesig wees.

Aartappels, mielies en sekere vrugte sal oor 'n aantal maande afwesig wees, terwyl vrugteboorde eers volgende seisoen weer produksie kan lewer, of selfs oorgeplant moet word.

Hierdie tekorte kan dit vir miljoene arm Suid-Afrikaners onmoontlik maak om voedsame kos te koop. Boerdery-ondernemings wat in die slag bly, is nog 'n slag vir 'n sektor wat reeds ander uitdagings in die gesig staar.

Georganiseerde landbou se pogings om beurtkrag by die landbousiklus te laat aanpas, het tot dusver nie die gewenste reaksie gehad nie.

Die VF Plus herhaal sy oproep dat die elektrisiteitmark oopgestel moet word.

Indien ondernemings, insluitend in die landbou, krag vir hulself kan opwek en oorskotte kan verkoop, kan hulle tot oplossings van die krisis bydra.

Son- en windkrag op plase is opvallende moontlikhede. Groter ondernemings kan ook geleenthede in die waterstofekonomie ondersoek, terwyl kleinskaalse modulêre kernkrageenhede stabiliteit kan verskaf.

Die voorwaarde vir hierdie moontlikhede om kragvoorsiening oor die land heen te versprei, druk op die netwerk te verlig en beurtkrag te beëindig, is egter 'n vrye energiemark.

Regulering moet tot veiligheids- en tegniese aspekte beperk word.

Tans is die sentralistiese ANC-regering nie tot so 'n stap bereid nie. Terwyl planne al intussen gemaak moet word, is die sekerste langtermynoplossing om die ANC in 2024 uit te stem.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!