Beskadiging van spoor-infrastruktuur se impak strek wyd

2020-11-03
Die Redaksie

"Die beskadiging van Suid-Afrika se spoor-infrastruktuur raak nie net die armes en die werkersklas nie. Die skade strek veel wyer en die impak op die ekonomie raak almal in die land. Ryk en arm," sê dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep.

"Prasa en Metrorail gee op hul webtuistes hoog op oor hul rol as die grootste openbare vervoerstelsel in die land. Tog gebeur dit nie en daar moet gevra word waarom nie.

"Die algemene opvatting is dat faktore soos vandalisme en bedrog die groot rede is vir die treurmare by die vervoerstelsel. Dit is egter belangrik om Prasa self onder die soeklig te plaas waar die wortel van die kwaad waarskynlik gevind sal word.

"Soos met alle ander staatsinstellings die geval is, is daar nie een wat deur die ANC-regering aangeraak word wat nie in een of ander stadium van ondergang gered moet word nie.

"Die geval van ene dr. Daniël Mthimkhulu is nog vars in die geheue.  Prasa het hom trots op nasionale TV voorgestel as die uitstaande man agter die nuwe Afro 4000-lokomotiewe. Dis die lokomotiewe wat toe te hoog was en glad nie gebruik kon word nie.

"Die waarheid was die teenoorgestelde. Mthimkhulu was oneerlik. Sy doktorsgraad so vals soos sy ander gewaande kwalifikasies. Hy het wel ’n uitnemende plan gehad om sy salaris te verdubbel deur te vertel van ’n aansienlike aanbod uit Duitsland. Die aanbod was egter net so vals soos sy kwalifikasies.

 

"Dit is hier waar Prasa oor die jare werklik ontspoor het. In sy eie hoofkantoor."

 

"Daar is wel skade aan dié vervoerstelsel aangerig tydens die Covid-19-inperking, maar dit het gebeur terwyl feitlik die totale weermag ontplooi is. Waarom het die soldate niks daaraan gedoen nie?

"Prasa noem nou selfs die moontlikheid dat daar voortaan meer van diesellokomotiewe gebruik gemaak gaan word omdat oorhoofse kragkabels te veel gesteel word. Maar selfs hierdie lokomotiewe het spore nodig om op te ry. Selfs dit word al gesteel. 

"Die mense wat die stelsel se infrastruktuur beskadig en steel kan van hoogverraad beskuldig word, maar dit is eintlik die ANC wat skuldig is aan hoogverraad na wat hulle aan die SA ekonomie oor jare gedoen het," sê Mulder.

DrCornéMulderPrasaMetrorail

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!