Begroting voldoen nie aan basiese vereistes om staat se skuldkrisis af te weer nie

2019-10-30
Die Redaksie

"Die belangrike mediumtermyn-begrotingsraamwerk van mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, voldoen nie aan die basiese vereistes om die skuldkrisis waarin die land gedompel is, te besweer nie. Dit raak toenemend duidelik dat die ANC bloot nie die vermoë het om die situasie om te keer nie," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Suid-Afrika is na jare se swak regering van vermorsing en wanbesteding nou vasgevang in ʼn bose kringloop waar staatsinkomste toenemend krimp terwyl besteding, veral aan salarisse, skulddelging en maatskaplike toelaes, hand oor hand toeneem.

"Die regering kon nie daarin slaag om een van die grootste probleme - die staat se salarisrekening - aan te spreek nie terwyl dit duidelik is dat die besparingsmetodes rakende die salarisrekening wat in Februarie aangekondig is, nie die gewenste uitwerking het nie.

"Die grootste enkele remskoen hier is vakbonde wat nie toelaat dat die onvolhoubare staatssalarisrekening aangespreek word nie.

 

"Pogings om te sny aan staatskuld, soos die verkleining van die kabinet en ʼn inkorting aan reiskoste, is kosmeties van aard en sal geen wesenlike verskil aan die reuse omvang van die staat se uitgawes maak nie." 

 

"Oor die volgende drie jaar sal die staat se besteding om sy skuld te finansier, meer wees as die besteding op gesondheid en ekonomiese ontwikkeling. Dit is onvolhoubaar. Staatskuld gaan oor die volgende drie jaar tot R4.5 biljoen groei. Teen 2022/23 sal dit 70% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) wees.

"Volgens minister Mboweni gaan R53 miljard minder aan belasting ingevorder word hierdie jaar as waarvoor in Februarie begroot is. Die begrotingstekort neem in die proses toe tot 5% van die BBP.

"Weens beleidsonsekerheid en swak infrastruktuur wat lei tot onvoldoende ekonomiese groei (geraamde groei vir 2019 is 0.5%) sal werkloosheid steeds toeneem en druk op die staat in die vorm van maatskaplike toelaes sal groter word en dit sal onafwendbaar tot groter staatskuld lei. Sowat 17,9 miljoen mense is tans afhanklik van maatskaplike toelaes.

"Benewens ʼn kleiner as verwagte belastinginkomste neem die invordering van munisipale dienstegelde en belastings ook af. Daar is egter nie soos in die verlede geld in die nasionale fiskus om in die aanwasbegroting aan munisipaliteite toe te ken vir infrastruktuur-ontwikkeling nie.

"Wat e-tol aanbetref, het die minister aangekondig dit sal in plek bly en maatreëls sal in plek gestel word om uitstaande tolgeld in te vorder.

 

"Terwyl hulp aan mislukte staatsondernemings toeneem oor die mediumtermyn en die belastingbetaler steeds daarvoor sal moet pa staan, is dit baie teleurstellend dat geen herprioritisering van fondse vir droogtehulp aangekondig is nie."

 

"Dorpe en stede landwyd is op pad na ‘Dag Zero’ wat waterbeskikbaarheid aanbetref. Landbou gaan swaar onder die droogte gebuk en bankrotskap kom wyd algemeen voor. Voedselsekerheid word wesenlik bedreig en die regering beskou dit oënskynlik nie as prioriteit nie.

"Op persoonlike vlak word die las op die belastingbetaler steeds groter. Dit wil voorkom of daar in Februarie 2020 waarskynlik drastiese belastingverhogings gaan wees om op te maak vir die toenemende begrotingstekort.

"Daar is niks in raamwerk wat vir die VF Plus aandui dat die ANC-skip ʼn rampspoedige botsing met ʼn ysberg in die toekoms kan vermy nie. Geen werklike oplossings of nuwe rigting is gebied nie en prioriteite bly verkeerd. Die strop om die nek van elke belastingbetaler in die land trek al hoe stywer," sê Groenewald.

 

PieterGroenewaldMediumtermynbegrotingsraamwerk

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!