Bankrot SAL borg nasionale sokkerspan vir R110 miljoen

2016-05-24
Dr Pieter Groenewald

Die SAL het sedert 2013 die Springbokke, SA Olimpiese span, Mej. SA, World Routes, NBA Africa Games en die International Jazz Extravaganza geborg teen ʼn waarde van R83,994 miljoen. Die borgskap vir Bafana Bafana wat in Maart vanjaar aangekondig is beloop R110 miljoen oor vyf jaar.

Die minister van finansies, mnr. Pravin Gordhan, het hierdie inligting in die parlement verskaf in antwoord op ʼn skriftelike vraag van dr. Pieter Groenewald (LP) van die Vryheidsfront Plus.

Volgens die minister is die borgskap in die vorm van goedgunstige waarde (value-in-kind) en nie kontant nie. In wese beteken dit dat die borgskap gratis lugreise is.

Dit is onaanvaarbaar dat die bankrot SAL wat die afgelope jare met miljarde rande se belastinggeld aan die lewe gehou moes word, borgskappe van miljoene rande verskaf, al is dit in die vorm van gratis lugreise, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor openbare ondernemings.

Dr. Groenewald sê gratis lugreise verander nie die saak nie, aangesien dit ʼn inkomste sou wees vir die SAL en die las op die belastingbetaler kon verlig.

ʼn Ekonoom van die Vryemarkstigting (VMS), Loane Sharp, het verlede jaar luidens ʼn berig in Netwerk24 gesê die staat se hulp aan die SAL oor die afgelope jare beloop na raming tussen R14 miljard en R45 miljard. Dié hulp is in die vorm van lenings wat op die staat se balansstaat getoon word asook waarborge.

Volgens dr. Groenewald is die toestaan van borgskappe aan sportspanne in beginsel nie verkeerd nie, maar dan moet die instelling dit kan bekostig en nie ʼn las plaas op die belastingbetaler nie. Hy sê daar kan ook met reg gevra word hoekom die International Jazz Extravaganza geborg is, aangesien dit nie ʼn nasionale bate is nie.

“Die onderpresterende Bafana Bafana is tans sewentigste op Fifa se ranglys, en sal daarom sukkel om groot borgskappe vanuit die sakewêreld te lok. Dit is nie regverdig en aanvaarbaar dat die staat en die publiek ʼn span borg wat soos die SAL, onderpresteer nie,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!