ANC wys dubbele standaarde met Covid-19-pamflette wat virus kan versprei

2020-05-08
Die Redaksie

"Die verspreiding van Covid-19-inligtingspamflette wat opsigself die gevaar van die verspreiding van die virus skep, wys die regering het ‘n wanpersepsie oor verantwoordelike regering of gee voor om verantwoordelik op te tree, maar doen dit met dubbele standaarde en ‘n verskuilde agenda," sê Armand Cloete, VF Plus-lid van die NRP en gekose parlementêre komiteelid vir kommunikasie.

"In antwoord op ʼn vraag van die VF Plus vandag in ‘n vergadering van ‘n gesamentlike komitee vir kommunikasie, kon die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, nie aandui of die regering maatreëls in plek gestel het om te verhinder dat die virus versprei deur die hantering en uitdeel van die pamflette nie.

"Die regering het reeds derduisende pamflette gedruk en versprei om Suid-Afrikaners oor die siekte in te lig.

"Die gevaar bestaan wesenlik dat die pamflette daarom ‘n spreekwoordelike Trojaanse-perd is. Dit vat net een a-simptomatiese persoon om duisende pamflette en gevolglik talle gemeenskappe te infekteer."

"Die verspreiding van pamflette is daarom net so gevaarlik as moontlike kontak tussen rokers en alkoholgebruikers.

"Dit kom neer op dubbele standaarde, maar die regering wil dit nie erken nie aangesien ANC-ideologie bepaal dat hy volle beheer oor die staat nastreef met die totale onderdanigheid van alle Suid-Afrikaners aan die staat.

"Dit is nie demokrasie nie. Dit is ‘n tirannie wat voorgee om om te gee, maar wat in der waarheid alle Suid-Afrikaners van hul persoonlike vryheid ontneem," sê Cloete.

ArmandCloeteANC#Covid19SA#Rookverbod#Drankverbod

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!