ANC oortree inperkingsregulasies en misbruik belastinggeld na Zimbabwe

2020-09-10
Die Redaksie

"Die afvaardiging van die ANC onder leiding van die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, na Zimbabwe, verbreek nie net die inperkingsregulasies nie, maar misbruik ook belastinggeld deur gebruik te maak van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se Falcon 900-vliegtuig," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die besoek aan Zimbabwe deur lede van die ANC is nie ‘n amptelike regeringsbesoek nie, maar ‘n besoek as politieke party (ANC) aan ‘n ander politieke party (Zanu-PF) in Zimbabwe.

 

"Inperkingsregulasies onder die nasionale rampbestuur bepaal dat geen internasionale reise mag plaasvind nie, behalwe in uitsonderlike gevalle en met vooraf toestemming."

 

"Daarbenewens word ‘n militêre vliegtuig ongemagtig gebruik om die ANC-partylede na Zimbabwe te vervoer vir party-politieke sake. Dit is niks anders as misbruik van belastinggeld en korrupsie nie. Die ANC sal die koste moet terugbetaal," sê Groenewald.

 

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sal ‘n amptelike klag hieroor indien by die Openbare Beskermer (OB) om die misbruik van belastinggeld deur die ANC te ondersoek.

 

Hy sal ook vrae in die parlement rig aan die betrokke ministers oor of toestemming verleen is vir die reis en wat die redes is. Hy sal ook vra wie die magtiging verleen het dat ‘n militêre vliegtuig gebruik word en wat die koste daaraan verbonde is.

Pres. Cyril Ramaphosa sê korrupsie moet uitgeroei word, maar as opperbevelhebber van die SANW en as president van die ANC, laat hy toe dat sy politieke party korrupsie pleeg.

DrPieterGroenewaldBelastingbetalersgeldANCSANW#Covid19SAZimbabweZanuPFAceMagashule

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!