ANC misbruik Covid-19 om openlik transformasie te bevorder

2021-01-26
Die Redaksie

"Die ANC-regering is besig om die Covid-19-pandemie te misbruik om sy agenda van rasgedrewe transformasie openlik te bevorder in totale minagting van die oorlewingstryd van minderhede in Suid-Afrika," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van toerisme.

"Die regering het vandag bekend gemaak dat ‘n fonds geskep is vir die sukkelende toerismebedryf waarvandaan toelaes, lenings en finansiering sal kom om die sektor weer op die been te kry.

"President Cyril Ramaphosa het egter aangekondig dat dié Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF), net ondernemings in swart besit gaan help.

 

"Dit beteken die staat staan totaal ongevoelig teenoor die oorlewingstryd van wit en bruin operateurs in die bedryf waarvan ‘n groot deel ondergang in die gesig staar."

 

"Die fonds het reeds meer as R1,2 miljard se finansiering ontvang en gaan bestuur word deur die kleinsake-finansieringsagentskap (Sefa). Altesame R54 miljoen van die geld is van die departement van toerisme, R120 miljoen vanaf Sefa self terwyl handelsbanke R594 miljoen in die vorm van lenings gaan bied aan ondernemings wat “kwalifiseer’’.

"Hierdie aankondiging sluit aan by die president se onlangse uitlatings dat swart sakelui moet baat vind by die Covid-19-entstofprogram en dat voorkeur gegee gaan word aan swartes in die opbou van die ekonomie.

"In die beginstadium van die Covid-19-inperkings het die staat ook voorkeur vir lenings gegee aan ondernemings in swart besit.

 

"Hierdie diskriminasie op grond van ras is skokkend en onaanvaarbaar. Ná bykans tien maande van inperking, is die toerismebedryf in sy geheel op sy knieë, nie net die swart deel daarvan nie."

 

"Wit én swart het saam hul werk en sake-ondernemings tydens die streng inperking verloor. Die opbouprogram sal nie slaag indien slegs swartes bemagtig word om deel daarvan te wees nie.

"Alle rasse in Suid-Afrika moet saamwerk om die ekonomie weer op te bou en die VF Plus sal hierdie onaanvaarbare toedrag van sake op elke wyse moontlik teenstaan," sê Groenewald.

MichalGroenewaldANC#CyrilRamaphosa#Covid19SAToerisme

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!