ANC-leierskapsverkiesing: Dlamini-Zuma of Ramaphosa?

2017-11-27
Die Redaksie

Die ANC se leierskapskonferensie (16 tot 20 Desember) in Gauteng kan verreikende gevolge vir Suid-Afrika inhou. Die stryd om die leierskap tussen Cyril Ramaphosa en Nkosazana Dlamini Zuma bring 'n einde aan 'n Zuma-era wat die ANC eerder sal wil vergeet. Maar wat lê voor vir Suid-Afrika onder die leierskap van die nuwe leier van die ANC? Wie gaan dit wees?  Dr Pieter Mulder, VF Plus LP, het sy voorspelling in Beeld (23 November 2017) gemaak: 

Wie gaan die ANC leiersverkiesing in Desember wen -- Ramaphosa of Dlamini-Zuma?

Om in kerksake te voorspel, is redelik maklik. Daar moet jy tussen sleg en goed kies.
Om in politiek te voorspel, is baie moeiliker. Daar moet jy meestal tussen sleg en slegter kies. Hier is dit ook die geval.  My voorspelling is dat Ramaphosa gaan wen.

"Nie Ramaphosa of selfs Superman gaan die staatsdiens weer reg kry nie."

 

Waarom gaan hy wen?
Omdat politiek oor mense gaan. Om te voorspel wat mense gaan doen, moet jy mensekennis hê en verstaan waarom mense seker goed doen. As jy hierdie redes verstaan, kan jy reg voorspel.

Ons moet dus die mense wat in Desember by die ANC konferensie gaan stem, probeer verstaan? Net hulle kan stem. Hulle gaan die wenner bepaal.

Wie gaan by die konferensie wees?
Vir elke 100 lede in ʼn ANC tak, kan hulle een afgevaardigde na die kongres stuur. Ongeveer 5000 afgevaardigdes gaan dus stem.

Wie stuur so ʼn tak na die konferensie?

Die tak kies waarskynlik ʼn persoon wat ʼn plaaslike leier is, wat polities ingelig is en daarom by die takvergadering leiding geneem het. Dit is waarskynlik ook ʼn persoon met politieke ambisie wat hoop om eendag ʼn ANC stadsraadslid of selfs parlementslid te word.

Jacob Zuma se foto was op die verkiesingsplakkate in die 2016 plaaslike verkiesing. Meer as 800 ANC stadsraadslede het toe hulle poste verloor omdat die ANC soveel swakker in daardie verkiesing gevaar het. Hierdie oud-raadslede het R15 000 tot R25 000 salaris maandeliks as raadslid gekry. Nou is hy of sy dit kwyt en dalk terug in ʼn shack.  Wie blameer hulle daarvoor?

Vir Jacob Zuma.

Sal so ʼn persoon vir Dlamini-Zuma stem met die hoop dat die gesig van nog ʼn Zuma op die ANC plakkate gaan verseker dat hy of sy by die volgende verkiesing weer verkies sal word?

Baie onwaarskynlik. Dieselfde geld vir die 249 ANC parlementslede en 279 ANC provinsiale wetgewerlede wat benoud na die volgende verkiesing in 2019 kyk.

Wie gaan dan vir Dlamini-Zuma stem?

Hoofsaaklik die verkose ANC lede. Hulle wat tans uit korrupsie en met lang vingers voordele het wat hulle nie wil verloor nie. Daarom die skynheilige argumente van Ace Magashule, premier van die Vrystaat en Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, dat dit nou tyd vir ʼn ANC vroue president is en dat die adjunk-president nie outomaties president hoef te word nie.


Suid-Afrika stem nog baie etnies -- al mag ons dit nie hard sê nie. Met Ramaphosa ʼn Venda is daar ʼn etniese pro-Zoeloestem in Dlamini-Zuma se guns. Met Zweli Mkhize as Zoeloespreker en vorige KwaZulu-Natal (KZN) premier ook in die reisies, is hierdie stem verdeel. KZN is verder verdeel deurdat Ramaphosa op ʼn slim manier Senzo Mchunu as sekretaris-generaal op sy lys het. Zoeloesprekende Mchunu was die vorige demokraties verkose ANC leier in KZN. Die hof het bevind dat hy op ʼn oneerlike wyse by die laaste provinsiale ANC-verkiesing vanjaar deur die Zuma faksie in KZN uitgeknikker is.

Hoekom gaan Ramaphosa wen?

Omdat daar meer ANC kongresafgevaardigdes is wat nog politieke poste wil hê, as die wat tans reeds politieke poste het.

"Zuma gaan probeer om as voorsitter van die ANC verkies te word of op ʼn ander wyse invloed te behou. Dit gaan nie slaag nie."

 

Gaan dit beter gaan met Suid-Afrika as Ramaphosa wen?

Nee en ja.

Nee vir die staatsdiens. Nie Ramaphosa of selfs Superman gaan die staatsdiens weer reg kry nie. Vanaf Mbeki se tyd is die staatsdiens so “getransformeer” met ANC kaders, vriende en familielede dat dit jare sal neem om weer ʼn ervare meriete staatsdiens te kry.
Ja vir die ekonomie. As Ramaphosa net enkele eenvoudige ekonomiese waarhede na sy verkiesing sê, gaan dit hoop vir die ekonomie bring. Die huidige ANC ekonomiese beleid skep nie werksgeleenthede nie en stimuleer ook nie ekonomiese groei nie. As Dlamini-Zuma verkies word, duik die ekonomie onmiddellik en verdamp die laaste paar beleggings uit Suid-Afrika. Ramaphosa mag die moed as ryk sakeman hê om enkele bestaande ANC ekonomiese standpunte in belang van Suid-Afrika te verander.

Gaan Ramaphosa die ANC red?

Toe FW de Klerk, kort voor die 1989 verkiesing by PW Botha oorgeneem het, het hy die NP tydelik gered. Hy kon egter nie keer dat die NP in 2004 net sewe setels in die Parlement gekry het nie. In 2005 is die party deur Marthinus van Schalkwyk ontbind.
Soos Ramaphosa by Zuma oorneem, behoort hierdie patroon hom te herhaal. In die vorige verkiesing het 3 miljoen ANC lede nie gestem nie. Hulle het nie vir opposisiepartye gestem nie, maar uit protes net weggebly. Ramaphosa, as ʼn nuwe besem, mag 2 miljoen van daardie stemmers na die ANC terugbring. Daarmee sal die ANC die 2019 verkiesing met ʼn verkleinde meerderheid kan wen. Soos die ANC na die verkiesing steeds swak gaan regeer, sal die kiesers hulle weer begin verwerp. Dit maak ʼn opposisiekoalisie in die toekoms moontlik.

Wat van Zuma?

Hy gaan probeer om as voorsitter van die ANC verkies te word of op ʼn ander wyse invloed te behou. Dit gaan nie slaag nie. Mbeki is eers huis-toe gestuur nadat hy teen Zuma as ANC president verloor het. As Ramaphosa wen, sal hierdie geskiedenis herhaal word. In 2018 sal hy Zuma huis-toe stuur.

Gaan Zuma toelaat dat die ANC konferensie voortgaan as dit duidelik word dat sy kandidaat, Dlamini-Zuma gaan verloor?

Nee. Die volgende paar weke gaan rof wees soos elke moontlike metode gebruik sal word om die konferensie te kelder of uit te stel. Die sleutel is egter Gwede Mantashe. As sekretaris-generaal is hy in beheer van die administrasie van die konferensie. Hy glo dat die uitstel van die konferensie fataal vir die ANC sal wees. Na alles is hy deur Ramaphosa as voorsitter op sy lys benoem.

Waarom het Mantashe dan onlangs vir Ramaphosa berispe toe Ramaphosa sy lys aangekondig het?

Omdat Mantashe moet voorkom dat die Zuma faksie hom uitgooi en sê hy is nie objektief nie. Hy probeer so sy geloofwaardigheid as ʼn tipe skeidsregter behou, al het hy reeds in die openbaar vir Ramaphosa kant gekies.

Wie is die beste keuse uit ʼn opposisie politieke oogpunt?

Dat Dlamini-Zuma wen. Dan kry die ANC minder as 50% in 2019 en kan ʼn opposisiekoalisie regeer.

Is dit die beste vir SA?

Moeilik om ja of nee te sê. As die Dlamini-Zuma ANC minder as 50% kry, mag die EFF aanbied om ʼn koalisievennoot van die ANC te word. Dan is Malema dalk premier van Limpopo en hulle eis nasionalisering en grondgrype sonder vergoeding as voorwaardes om saam te werk.

Wat van ʼn opposisiekoalisie?

Meningspeilings wys dat die DA en geen opposisieparty op sy eie die verkiesing kan wen nie. ʼn Koalisie van opposisiepartye, saam met die EFF, kan dalk meer as die ANC kry. Maar – die EFF sal natuurlik dieselfde eise stel om saam met ʼn DA, VF Plus en ACDP koalisie te werk.


Interessante en gevaarlike tye lê voor.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!