ANC is die olifant in die onderwyskamer met swak bestuur en aftakeling van moedertaalonderrig

2017-01-05
Adv Anton Alberts

Aan alle matrikulante wat die pas afgelope eksamen geslaag het, en veral aan dié wat deur harde werk top-prestasies behaal het nieteenstaande ʼn gebrekkige onderwysstelsel, wil die VF Plus geluk sê en aan hulle voorspoed toewens met hul toekoms, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.

Adv. Alberts sê die uitslae onderstreep opnuut dat daar heelwat kommerwekkende kwelpunte in die land se onderwysstelsel is, en dat dit grootliks te wyte is aan die ANC-regering se swak bestuur en beleid soos die aftakeling van moedertaalonderrig.

Hy sê die jongste slaagsyfer is misleidend weens verkeie faktore soos ʼn slaagdrumpel van 30% en die vorderingsbeleid van 2014 wat bepaal dat ʼn leerling net een keer per fase mag druip.

“Die feit dat die slaagsyfer in wiskunde van graad sewe tot nege nou boonop verlaag gaan word na net 20%, is absoluut skokkend en dui op pogings van die ANC om bloot ʼn pleister oor die sweer van die falende onderwysstelsel te plak om statistiek beter te laat lyk.

“Die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) het verlede jaar bevind dat Suid-Afrika se wiskunde- en wetenskap-opvoeding die swakste in die wêreld is en sy algehele onderwysstelsel op twee na die swakte op aarde.

“Dit is totaal onaanvaarbaar vir ʼn land met Suid-Afrika se hulpbronne en vermoë om ʼn swakker onderwysstel te hê as lande soos Nigerië, Mosambiek, Malawi of selfs ʼn bankrot Zimbabwe. Daar word niks gedoen om die probleem reg te stel nie. Die slaagsyfer word bloot verminder.

“Nog ʼn kommerwekkende aspek wat die leerlinge self aanbetref, is die feit dat hierdie gebreke totale vals verwagtinge by jong mense self skep oor hul vermoëns en hulle hoegenaamd nie toerus vir die arbeidsmark of universiteit nie.

“Dit skep ʼn totale generasie van jong mense met ʼn uitsiglose bestaan wat hulle baie vatbaar maak vir populistiese politiek en vir wie daar feitlik geen ander uitweg is as om hulle tot misdaad te wend om te oorleef nie.

“Om sake te vererger is die land se swak ekonomie so swak dat selfs uitblinkers sal sukkel om die arbeidsmark te betree.

“Daar sal doelerig planne beraam moet word om dissipline onder onderwysers te verbeter, en in hierdie verband het ʼn vakbond soos Sadou ʼn uiters negatiewe invloed. Onderwys is ʼn allerbelangrike noodsaaklike diens en moet as sodanig beskou word. Vakbonde kan nie toegelaat word om dit te beïnvloed nie.

“Die belangrikheid van moedertaalonderrig kan nie langer geïgnoreer word nie. Dit is van kardinale belang om basiese vaardighede en begrippe van jongs af te onderlê. Die oormatige klem op Engels was en is ʼn doodsteek vir basiese onderwys, veral in swart gemeenskappe.

“Die feit dat soveel persone wat in die verlede in Afrikaans onderrig is regoor die wêreld uitblink en uitgeblink het, is klinkklare bewys hiervan.

“Die onwilligheid van die ANC om moedertaalonderrig algemeen toe te pas is deel van sy beleid van neokolonialisme waar die massas deur onkunde afhanklik van die regering en sy sosiale programme gehou word.

“Die ANC moet besef dat hierdie swak onderwysstelsel en bestuur ernstige gevolge vir hom gaan hê. Dit sal realiseer in die algemene verkiesing in 2019,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!