ANC-hofaansoek teen Tshwane-metroraad is suiwer opportunisme en suur druiwe

2018-10-09
Die Redaksie

"Die ANC-hofaansoek teen die Tshwane-metroraad om die raadsvergadering van 27 September ter syde te stel, is suiwer opportunisme en suur druiwe omdat die koalisieregering in die laaste raadsvergadering ‘n poging van die ANC afgeweer het om die raad tot 'n val te bring," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.

Op die raadsvergadering van 27 September 2018 het die ANC se mosie van wantroue in die burgemeester gesneuwel en het die koalisieregering, waarvan die VF Plus die tweede grootste party is, sterker aan die ander kant uitgestap.

"Die VF Plus ondersteun die metroraad se opponering van die hofaansoek en bevestig sy steun aan die koalisieregering. Daar kan nie toegelaat word dat die ANC ooit weer beheer oor Pretoria kry nie.

"Die ANC se hofaansoek is 'n desperate poging om sy eer te herstel wat gekrenk was tydens die gefaalde mosie van wantroue en om te sorg dat die mosie weer vinniger dien as wat die ordereëls toelaat. Die ANC probeer nou verlore aansien herwin  deur die hof te nader om te vermag wat die party polities nie kon regkry nie.

"Dit is 'n teken van 'n desperate party wie se geldkrane van patronaatskap afgesny is deur die anti-korrupsie koalisieregering.

"Die hofaansoek kan waarskynlik ook 'n diep wig indryf tussen die ANC en die EFF in Pretoria omdat laasgenoemde op 'n uitgebreide wyse uitgewys word as deel van die probleem, enersyds omdat die EFF nie die ANC se mosie van wantroue ondersteun het nie, en andersyds omdat die EFF se ooreenkoms met die DA die koalisieregering in beheer hou. Die ANC verwys in die aansoek na die DA en EFF as getroudes wat 'n korrupte status quo handhaaf," sê Alberts.

Hy sê die VF Plus is hoopvol dat die aansoek van die ANC nie sal slaag nie en dat die koalisieregering kan voortgaan met die herstel van die gemors wat die ANC in die stad agtergelaat het tydens sy bewind.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!