ANC faal kinders met Kinderwysigingswetsontwerp

2022-09-08
Tammy Breedt

Die Kinderwysigingswetsontwerp moes tot die voordeel van kinders in die land gewees het; vir die mees kwesbares wat nie vir hulself kan praat nie.

In stede daarvan het dit ontaard in ‘n woordestryd in die komitee tussen die ANC en die opposisie. 'n Stryd wat net die kinders gaan benadeel.

Daar word op gevaarlike terrein beweeg wanneer 'n voorstel wat tot die verbetering van die wet sal lei, al is dit goed, verwerp word omdat dit nie 'n ANC-lid was wat die voorstel gemaak het nie.

'n Voorbeeld hiervan is klousule 10 wat handel oor artikel 21 van die wetsontwerp. Dit spreek tot die reg van ongetroude vaders.

Dit was vervat in die volledige wetsontwerp, maar weens die geboelie van die ANC in die komitee, is dit verwerp.

Dit moes ingesluit gewees het omdat baie kinders wat deur hul moeders wees gelaat of verlaat is, by ongetroude vaders woon.

Die wysiging aan artikel 21 sou help om te keer dat hierdie kinders in pleegsorg beland. Negentig persent van voorleggings het artikel 21 gesteun, maar nie die ANC nie.

Die komitee het meer as ʼn duisend bladsye se voorleggings ontvang. Honderde organisasies wat verbeterings voorgestel het, is aangehoor.

Betekenisvolle voorstelle wat tot praktiese implikasies van die wetsontwerp spreek, is gemaak, maar tevergeefs.

Die wetsontwerp soos dit nou is, is gebrekkig en spreek nie die werklike uitdagings aan wat in die pleegsorgruimte ervaar word nie.

Hierdie wetsontwerp is hangende sedert 2011. Elf jaar en vier hofbevelverlengings later en slegs twee maande voor die jongste sperdatum van November 2022 het hierdie wetsontwerp steeds nie die nodige aandag en werk gekry nie.

Dit het so lank gesloer dat die hele wetsontwerp in werklikheid hersien moes word in stede daarvan om net te fokus op wat die hof beveel het.

Dit het slegs 'n halfuur geneem vir die komitee om oor hierdie wysigings te besluit. Dit is gedoen sonder 'n klousule-vir-klousule-ontleding en sonder verwysing na openbare bydraes.

Die ANC-komiteelede het nie met hierdie wysiging na uitnemendheid gestreef nie. Trouens, hulle het nie eens middelmatigheid bereik nie.

Hulle het niks bereik nie. Hierdie wysigings is nie in die beste belang van die kind nie.

Artikel 28(2) van die Grondwet lui: “ ʼn Kind se beste belang is van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak”.

Die komitee het dit nie gedoen nie en in sy grondwetlike mandaat misluk.

Die ANC het weereens die kinders van Suid-Afrika gefaal.

TammyBreedtANCkinderwysigingswetsontwerp

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!