ANC en EFF gee minister vrye teuels oor ramptoestand

2022-03-01
Dr Pieter Groenewald

Die ANC en die EFF het vandag teen die privaatlid-wetsontwerp van die leier van die VF Plus (dr. Pieter Groenewald) gestem wat die magte van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, sou inperk om die pandemie-ramptoestand onbepaald te verleng.

Dié partye het aangevoer dat die privaatlid-wetsontwerp volgens hulle nie “wenslik” is nie. Hierdeur het die minister vrye teuels gekry om self te besluit wanneer die ramptoestand beëindig sal word.

Die VF Plus se doel met die privaatlid-wetsontwerp was juis om die minister se magte in te perk en om haar meer verantwoordbaar te maak teenoor die parlement se Nasionale Vergadering (NV).

Ingevolge die privaatlid-wetsontwerp sou die minister ná 21 dae toestemming van die NV moes kry om die ramptoestand te verleng. Die NV sou ook nuwe regulasies aangaande die ramptoestand moes bespreek om daaroor te besluit.

Hierdie optrede sou in lyn wees met die wetlike voorskrifte van ’n noodtoestand waar die Grondwet die president gebied om binne 21 dae toestemming van die NV te kry oor die verlenging van ’n noodtoestand.

Die ANC en EFF het met hul besluit ’n gulde geleentheid verspeel om die minister se magte in te perk en hierdie partye moet besef dat kiesers hiervan kennis sal neem.

Die VF Plus is op rekord oor sy standpunt dat die ramptoestand lank reeds beëindig moes gewees het en dat baie van die regulasies daaroor irrasioneel was.

Die privaatlid-wetsontwerp sou hierdie onbeperkte mag van die minister weggeneem het.

Dit is jammer dat politiek ’n groter rol speel as die verantwoordelikheid wat lede van die ANC en die EFF teenoor die land se kiesers het.

DrPieterGroenewaldANC#EFFprivaatlidsontwerp

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!