Anargie op paaie: Wetsgehoorsame burgers word gyselaar gehou

2019-09-03
Die Redaksie

Die situasie wat gister geheers het op paaie rondom Kaapstad, Pretoria en elders in die land is niks anders nie as anargie en ʼn minagting van wet en orde waardeur wetsgehoorsame burgers gyselaar gehou word.

Wat die versperring van roetes na Kaapstad aanbetref, wat die besige N2 insluit, is dit duidelik dat die owerhede òf onbevoeg is, òf onwillig is om op te tree aangesien dit bekend was dat vragmotorbestuurders sekere roetes gaan versper.

Dit is glo gedoen uit protes teen die voortslepende geweld teen vragmotorbestuurders en hul voertuie. Hierdie soort protesaksie dien geen doel nie en die gegriefde vragmotorbestuurders word sodoende deel van ʼn groter probleem en nie van enige oplossing nie.

Net so in Pretoria waar taxibestuurders sonder enige oënskynlike vrees vir die gereg chaos veroorsaak het deur paaie te versper en busse en vragmotors voor te keer om glo te soek na buitelandse bestuurders van dié voertuie.

Dit sluit aan by die situasie verlede week in Pretoria toe dele van die stad onbegaanbaar was weens brandstigting en ʼn geplunder wat grootskaalse verwoesting veroorsaak het.

Die VF Plus neem kennis daarvan dat die ministers van vervoer, arbeid en polisie reeds vergader het om die aangeleentheid te bespreek en van hul uitsprake dat die aanvalle op vragmotors ʼn “poging is om die ekonomie te saboteer”.

Die VF Plus sal die ANC-regering en sy ministers reghelp deur hulle daarop te wys dat die situasie nie ʼn poging is om die ekonomie te saboteer nie, maar dat dit lank reeds ekonomiese sabotasie is waarvan die ministers bewus was. Dit berokken die land groot skade en die ANC moet die volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar," sê Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

"Veel groter as die berekenbare skade wat aangerig word en die impak op Sasria (staatsbeheerde versekeraar teen onder meer onrus) wat vir die eerste keer in sy bestaan nie winsgewend is nie, is die verlies aan menselewens en die skade aan Suid-Afrika se beeld in die buiteland.

"Dit wil voorkom of xenofobie die onderliggende probleem agter al die geweldpleging is. So lank as wat die land se ekonomie agteruitgaan en werkgeleenthede minder raak, so lank hierdie soort geweld toeneem. Die skuld vir die verswakkende ekonomie kan net by die ANC gesoek word.

"Die regering sal met ʼn ferm hand moet begin optree. Paaie is Suid-Afrika se ekonomiese lewensare en daarsonder sal die ekonomiese hartklop tot ʼn stilstand kom," sê Groenewald.

PieterGroenewald

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!