Aksie, nie net idees nodig om SA se ekonomie te red

2018-09-13
Die Redaksie

"Wat Suid-Afrika nodig het om uit die put van sy huidige ekonomiese resessie te kom is aksie, en nie net idees nie," sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Een van die hoofredes vir die ekonomiese stagnering is die regerende ANC se planne oor onteiening sonder vergoeding. Dit sal die ANC daarom loon om aandag te skenk aan die voorleggings hieroor aan die grondwetlike hersieningskomitee," het Groenewald tydens 'n debat in die parlement oor idees vir ekonomiese oplewing ná die resessie gesê.

Groenewald het verwys na Nedbank se uitvoerende hoof, Mike Brown, wat onder meer gesê het voornemende beleggers raak toenemend bekommerd oor die ekonomiese situasie in Suid-Afrika.

In gesprekke met beleggers is voorheen gewoonlik twintig minute van elke uur bestee aan wat in die land gebeur, tien minute aan die bankwese en dertig minute aan die bank self.

"Die ANC-regering is gebind aan sy ideologie. Hy moet ophou om te dink hy regeer net vir die ANC"

 

In die laaste twee maande word veertig minute van die uur bestee aan wat in die land gebeur. Slegs vyf minute aan die bankwese en vyftien minute aan die bank.

Nicky Weimar, senior ekonoom by Nedbank, sê onder meer die regering praat baie oor wat onteiening sonder vergoeding nie sal behels nie, soos dat daar nie grondgrype sal wees nie en dat voedselsekerheid nie in die gedrang sal kom nie.

Wat nie gesê word nie, is hoe daar seker gemaak gaan word dat grondonteiening nie totaal buite beheer eskaleer nie, aldus Weimar.

"Onteiening sonder vergoeding is die groot probleem wat die ekonomie lamlê, en so lank as wat die regering ontken dat dit die kernoorsaak van die krimpende ekonomie is, so lank sal die agteruitgang voortduur.

"Die ANC-regering is gebind aan sy ideologie. Hy moet ophou om te dink hy regeer net vir die ANC.

"Die belastingbetaler se geld behoort nie aan die regering nie, dit behoort aan die belastingbetalers en die inwoners van Suid-Afrika, en dit moet dienooreenkomstig bestee word," het Groenewald gesê.


Found this interesting? Share it!