Afrikaans: VF Plus daag Maimane uit tot openbare leiersdebat

2019-04-18
Die Redaksie

Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, daag die leier van die DA, mnr. Mmusi Maimane, uit tot ‘n openbare leiersdebat oor taalregte en die beskerming daarvan, en in besonder die handhawing van Afrikaans.

Die DA-leier beweer in ‘n video-opname op Facebook dat sy party veg vir veeltaligheid en die regte van Afrikaanssprekendes beskerm.

“Die VF Plus is van mening die DA mislei Afrikaanse kiesers op hierdie wyse met oneerlike populistiese uitsprake en beloftes.  Maimane versuim onder meer om te sê dat die DA in die Moqhaka-raad teen die gebruik van Afrikaans beswaar gemaak het,” sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

“Hy laat ook na om te sê die DA het in die parlement gestem ten gunste van ‘n verslag van die portefeuljekomitee oor hoër onderwys wat voorstelle oor Noordwes-Universiteit gemaak het, onder meer dat die instelling net Engels as onderrigmedium moet gebruik.

“Die VF Plus sal antwoorde eis oor waar die DA direk teen Afrikaans opgetree het.

“Die VF Plus is daadwerklik verbind tot die beskerming van al elf amptelike tale van Suid-Afrika. Dié party het oor die afgelope 25 jaar ook bewys hy is verbind tot die bevordering van veeltaligheid en moedertaalonderrig.

“Die tyd het aangebreek dat kiesers op ʼn eerlike en openhartige wyse ingelig word oor watter party waarlik vir taalgemeenskappe veg.

“Afrikaanse kiesers is op soek na ‘n politieke party wat die beskerming van Afrikaans bo-aan sy agenda plaas. Die VF Plus slaan jare reeds terug teen die politieke en  institusionele druk op Afrikaans en die onderdrukking van al elf amptelike tale,” sê Groenewald.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!