Aankondiging van vervroegde beëindiging van Sitole se dienskontrak sal spanning op hoogste vlak in polisie verlig

2022-02-28
Dr Pieter Groenewald

Die aankondiging van die vervroegde beëindiging van die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, se dienskontrak, sal daartoe bydra om die gespanne toestand tussen die polisie se senior bestuur en die ministerie van polisie te verlig.

Dit beteken die polisie se senior bestuur sal nou meer kan fokus op die effektiewe bestryding van misdaad.

Die werklikheid is dat die president die minister van polisie, Bheki Cele, ook moet vervang. Die rede hiervoor is dat Cele die rol van kommissaris wil speel terwyl hy ’n politikus is en nie ’n ervare en kundige polisieman is nie.

Die kans is groot dat Cele ook sal probeer inmeng in die operasionele werking van die polisie onder ’n nuwe kommissaris. As minister mag hy dit nie doen nie.

Indien dit gebeur, sal dit bloot ’n terugkeer wees na die huidige situasie waar groot spanning tussen die kommissaris en die minister bestaan.

Die VF Plus wil dit duidelik stel dat die volgende kommissaris van polisie ’n persoon moet wees met deeglike ervaring van die polisiediens en nie ’n politieke aanstelling soos in die verlede voor die aanstelling van Sitole gebeur het nie.

Pres. Cyril Ramaphosa behoort ’n komitee saam te stel bestaande uit kundiges in die polisiekunde voor wie kandidate moet verskyn vir keuring.

Hierdie werkswyse word gevolg met die aanstelling van die hoofregter en dit behoort daarom ook gedoen te word met die aanstelling van die nasionale polisiekommissaris.

DrPieterGroenewald#BhekiCelePolisieKommissarisKhehlaSitole

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!