Aankondiging dat Kaapstad nou reeds beurtwater gaan kry, is ʼn onverwagse skok

2017-10-13
Dr Corné Mulder

Die aankondiging van die kantoor van Kaapstad se DA-burgemeester, Patricia de Lille, dat beurtwater die metropool se voorland is en dat daar dalk eers in April 2018 verligting kan kom wanneer noodplanne in werking tree, is drasties en gaan elke inwoner van die stad swaar tref, sê dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus in die Wes-Kaap.

Luidens die aankondiging sal water na sekere woongebiede sonder vooraf waarskuwing afgesny word en sal mense in hoogliggende gebiede bykomende probleme ervaar weens verlaagde waterdruk. Daar sal ook geen rooster wees om mense vooraf te waarsku nie.

Dr. Mulder sê dit is so dat die Kaap onder ʼn knellende droogte gebuk gaan, maar die noodplanne wat die stad nou wil neem is ʼn bewys dat die burgemeester nie oop kaarte met die stad se inwoners gespeel het oor die ware omvang van die krisis nie.

“Die aankondiging is boonop vaag en laat talle vrae ontstaan, soos hoeveel buurte op ʼn slag geraak kan word, hoe lank die afsluitings sal duur, hoe beplan is om plekke soos skole, hospitale en industrieë aan die gang te hou, en vele meer.

“Dit is verder insiggewend dat in die verklaring gesê word die situasie kan teen Maart of April aanstaande jaar verbeter wanneer noodplanne soos ontsouting en die sink van boorgate die metropool se watervoorraad kan aanvul.

“Dit is niks anders nie as ʼn skokkende erkenning hierdie dinge wel lank reeds gedoen kon word, maar dat daar geen noodplan of voorsorgmaatreël hoegenaamd getref is nie en dat die burgemeester nie ag geslaan het op talle waarskuwings oor die dreigende krisis nie.

“Wat nou gebeur het, sal op vele vlakke rampspoedige gevolge vir die streek inhou. Ook wat menselyding aanbetref.

“Die VF Plus doen nogtans ʼn beroep op die stad se inwoners om hande te vat en saam te staan om hierdie ongekende krisis die hoof te bied.

“Ons doen ook ʼn beroep op die burgemeester om voortaan oop kaarte met die publiek te speel oor die omvang van die krisis, en presies hoe dit die metropool se inwoners gaan raak,” sê dr. Mulder.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!