ʼn Wet is net goed as dit reg toegepas in uitgevoer word (Debat in parlement: Nasionale Padverkeerswysigingswetsontwerp)

2022-09-28
Piet Mey

Die mense van Suid-Afrika, soos in die res van die wêreld, is afhanklik van ʼn goeie vervoerstelsel en goeie wette om die stelsel te rig.

Die beste wet wat nie reg toegepas en uitgevoer word nie, beteken egter niks.

Wette is nie staties nie, maar moet gewysig word soos omstandighede dit vereis, veral in omgewings met snelle vooruitgang en ontwikkeling.

In hierdie verband word gepoog om nuwe wysigings aan die Nasionale Padverkeerswet te bring om onder meer vervoer te verbeter, bestuursskole beter te reguleer en ʼn einde te bring aan omkopery en korrupsie.

Daar is onder meer voorstelle ingedien vir die instel van ʼn nul-bloedalkohol-inhoud vir bestuurders om paaie veiliger te maak.

Die negatiewe hiervan is dat dit Suid-Afrika se ekonomie verder kan verswak aangesien restaurante en ander kuierplekke straks vermy sal word.

ʼn Nul-bloedalkohol-vlak is dus nie die oplossing nie. Mense moet opgevoed word om alkohol verantwoordelik te gebruik.

Een van die ander voorstelle is die oprigting van meer weegbrûe om te voorkom dat oorlaaide swaarvoertuie Suid-Afrika se reeds uitgetrape padnetwerk nog verder verniel.

Die voorstel oor die weegbrûe klink goed, maar by Potchefstroom is daar twee jaar gelede ʼn weegbrug opgerig wat nie gebruik word nie. ʼn Wit olifant.

Daar moet eweneens oplossings gevind word vir die probleme rondom bestuurslisensietoetssentrums (BLTS). Dit is tans die provinsiale regerings en plaaslike owerhede verantwoordelik vir vervoer se plig om dié sentrums te registreer voordat dit mag opereer.

Om ʼn bestuurslisensie te bekom of te hernu in Suid-Afrika is erger as tandetrek, ʼn bewys dat wette wat nie reg uitgevoer word nie, min beteken.

Belastingbetalers wil positiewe resultate sien en dit sal nie onder ʼn ANC-regering gebeur nie.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!