Yusuf Dadoo Hospitaal 'n skande vir die mediese professie

2016-07-15
Me. Amanda de Lange

Dit is ‘n skande dat siek pasiënte moet ly terwyl mediese personeel by die Yusuf Dadoo Hospitaal in Krugersdorp vir die soveelste keer besluit het om te staak, sê Amanda de Lange, VF Plus-raadslid en burgemeesterskandidaat vir Mogale City.

Die hospitaal het ‘n lang geskiedenis van wanbestuur, swak mediese sorg, beperkte bronne en medisyne.

Rdl. de Lange sê sy monitor die situasie al lank en het verskeie briewe aan die provinsie geskryf - sonder enige sukses.

Die departement van gesondheid sal drasties moet ingryp om die situasie te red. Enige mediese personeellid wat bereid is om te staak oor verskille met die hospitaalbestuur of persoonlike kwessies moet eerder nie in die mediese professie werk nie.

“Pasiënte is op hulle sorg aangewese maar, soos met soveel ander kwessies in Suid Afrika, neem die ANC-regering niks ernstig op nie en menselewens is waarskynlik 'n bysaak vir ministers en senior beamptes in beheer.

“Ernstige probleme by provinsiale hospitale is vir baie lank al 'n dringende probleem en daar word baie gepraat en beloftes gemaak van die regeringsbeamptes se kant af. Dit bly egter leë beloftes en daar is steeds nog ongekwalifiseerde personeel wat na pasiënte omsien,” aldus rdl. de Lange.

 

Kontak : 071 604 9498

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!