Wysiging aan die Wet op die Regulering van Private Sekuriteitsindustrie skadelik vir die industrie en kan werksverliese veroorsaak

2021-10-12
Dr Pieter Groenewald

Die Wysigingswetsontwerp op die Regulering van die Private Sekuriteitsindustrie wat gister deur pres. Cyril Ramaphosa afgeteken is, is ondeurdag en kan die industrie groot skade aandoen. Die wysigings is gegrond op gebrekkige inligting oor onder meer aandeelhouding van buitelandse maatskappye in die industrie en kan groot werksverliese veroorsaak.

Oor die aanname van die regering dat buitelandse aandeelhouding van meer as 50% ʼn gevaar vir staatsveiligheid in Suid-Afrika inhou, het Juliemaand se onrus gewys dat die gevaar vir die staat eerder in sy eie geledere lê.

Selfs tydens die konsepfase van die wetsontwerp kon daar nie aan die portefeuljekomitee vir polisie belangrike inligting gegee word oor hoeveel aandeelhouding buitelandse maatskappye het, of oor moontlike werkverliese in die industrie nie. Daar is geen navorsing oor gedoen nie.

Die groeiende sekuriteitsindustrie is boonop die maaksel van die ANC-regering self wat nie in staat is om misdaad te bestry en die publiek se veiligheid te verseker nie.

In Suid-Afrika is daar sowat drie sekuriteitswagte vir elke polisielid weens die feit dat die ANC-regering nie sy grondwetlike plig nakom om die publiek te beskerm teen misdadigers nie. Die publiek moet daarom dubbel betaal vir hul veiligheid.

In ʼn tyd waar werkloosheid in Suid-Afrika van die hoogste in die wêreld is en misdaad gedy weens gebrekkige polisie-optrede, is daar geen logika in dat die president die wet onderteken het nie. Dit dien as bewys dat hy nie begrip het vir die werklike misdaadsituasie in Suid-Afrika nie. Dit is die gewone burger wat nie omring is van lyfwagte nie, wie se veiligheid bedreig word.

Daar is gevestigde belange van maatskappye op die spel en hierdie wysiging gaan waarskynlik deur belanghebbendes in die Grondwethof getoets word.

 

 

PolisieDrPieterGroenewald#CyrilRamaphosaPrivateSekuriteitsindustrie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!