Wêreld en Trump se oë op ANC se rampspoedige rit na onteiening sonder vergoeding

2018-12-06
Adv Anton Alberts

Terwyl donker wolke oor Suid-Afrika saampak met die onheilspellende belofte van ʼn totale verbrokkeling van sosiale kohesie weens onteiening sonder vergoeding, kan die ANC-regering daarvan seker wees dat die wêreld én Donald Trump se oë op om gerig is.

Die ANC en die EFF maak dit duidelik dat onteiening sonder vergoeding gemik is teen wittes, waarskynlik ʼn tipe vergelding. Ek wil hulle vandag waarsku; Waarmee julle besig is, is niks anders nie as ʼn vorm van rassisme, en rassisme is ʼn internasionale misdaad.

Die ANC en die EFF gaan nog op baie maniere hiervoor betaal. Die hele proses wat die parlement se komitee oor die wenslikheid van onteiening sonder vergoeding gevolg het, was ʼn gebrekkige proses gebou op ʼn gebrekkige fondasie.

Die ANC mislei sy mense deur te sê die wet sal voor die verkiesing gefinaliseer word. Die enigste manier hoe dit gedoen kan word, is met oneerlike kortpaaie, en die VF Plus sal hierop bedag wees.

Beleggers is besig om verwikkelinge in Suid-Afrika met ʼn vergrootglas dop te hou. Met gister se veranderinge aan die Kopieregwet en die Wet op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars, het beleggers reeds aangedui hulle staan gereed om die land te verlaat, in die besonder oor onteiening sonder vergoeding.

President Donald Trump is een van die dié wat Suid-Afrika dophou, en die ANC-regering hoef nie te twyfel oor die feit dat die land vinnig uit die Agoa-ooreenkoms met Amerika geskop sal word nie.

Dit is dalk tyd dat Trump weer ʼn twiet oor die aangeleentheid stuur, want klaarblyklik steur die ANC hom meer aan Trump as aan die EFF aangesien die regering weet wat met hom kan gebeur indien Amerika teen Suid-Afrika optree.

Die hele ontwikkelde wêreld is gekant teen onteiening sonder vergoeding en steun die vrye mark-ekonomiese beleid wat die VF Plus ook voorstaan aangesien dit almal in die land sal bevoordeel.

Daar wag ʼn wrede ontnugtering op die ANC indien hy volhard op die pad van onteiening sonder vergoeding, wat hy gaan eindelik self die groot verloorder wees.

Wanneer die EFF onheilspellende uitsprake maak deur te sê; “wittes se tyd is verby”, is dit die plig van die regering om te vra wat dit beteken. Dreig hulle om wittes uit te moor en hulle grond te vat? Indien dit gebeur, sal die bloed op die regering se hande wees en hy sal boete moet doen.

Die ANC moet wakker skrik en kennis neem van wat in die land gebeur. Hy tree gevaarlik populisties op omdat hy bang is hy gaan aanstaande jaar se verkiesing verloor. Dit is ʼn gevaarlike speletjie en kan die land in chaos dompel.

Soos elke regdenkende in die land bepleit die VF Plus vrede en voorspoed. Die party neem daarom met kommer kennis daarvan dat die ANC se optrede buite beheer kan spiraal. Dit moet ten alle koste vermy word deur saam met die VF Plus te staan en te help om die ANC in 2019 by die stembus te verslaan.


Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!