Wetgewing oor droogtehulp moet aangepas word om effektief te wees

2019-10-24
Tammy Breedt

Langdurige droogtetoestande raak toenemend ʼn deel van die landboutoneel in Suid-Afrika en tot dusver is droogtehulp nie effektief nie aangesien wetgewing in die verband nie tred hou met die dringendheid van ernstige droogtesituasies nie.

Die VF Plus besef die noodsaaklikheid van tydige ingryping en hulpverlening in knellende droogtetoestande om te verhinder dat rampsituasies in gebiede ontstaan wat deur tydige hulp en voorsorg wel deur droogtesiklusse bestuur kan word sonder om produksie totaal verlore te laat gaan.

Om hierdie rede het die VF Plus vandag ʼn parlementêre mosie ingedien waarin gevra word dat erkenning gegee moet word aan die feit dat die huidige stelsel van rampbestuur in droogtegebiede nie relevant of doeltreffend is nie.

Die mosie versoek ook dat die aangeleentheid verwys word na die portefeuljekomitees vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en dié van samewerkende regering en tradisionele sake om die huidige rampbestuursmodel te hersien en toepaslike wetgewing in te stel om effektiewe ramphulp te verseker.

Die mosie lui voorts:

• Dat kennis geneem word van die huidige uitwerking van klimaatsverandering op Suid-Afrika en die huidige situasie van langdurige droogtes wat Suid-Afrika in die gesig staar.

• Dat provinsies soos die Noord-Kaap met meerjarige droogtes te kampe het wat voedselsekerheid en die lewensbestaan van miljoene bedreig.

• Dat erken word dat droogtehulp tans nie voldoende is nie en nie die beoogde begunstigdes bereik nie, terwyl 'n geraamde 32 000 poste jaarliks in die landbou-bedryf verlore gaan en 1,2 miljoen huishoudings tans deur die langdurige droogtes geraak word.

Die kortlikse agtergrond van die situasie met enkele voorbeelde wat die VF Plus genoop het om die mosie in te dien is soos volg:


• Voordat droogtehulp bewillig kan word, moet die droogtegeteisterde gebied eers tot ’n rampgebied verklaar word.

• Om ’n gebied tot ’n rampgebied te verklaar, moet die departement van samewerkende regering en tradisionele sake ʼn komitee saamstel om daaroor te besluit. Hierdie komitee keur dit goed of af. Met langdurige droogtes, soos in die Noord-Kaap, word die aansoek verwys na die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling wat dit moet motiveer. Daarna word dit eers finaal goedgekeur. Dan begin die proses om geld te vind vir hulpverlening waarna die departementele rompslomp met die verwerking van hulpaansoeke die proses verder vertraag.

• In die praktyk doen die boer aansoek by sy distriksmunisipaliteit om droogtehulp. In die administratiewe proses wat daarop volg, gaan die hulp, indien goedgekeur, van nasionaal na distrik en dan eers na die boer. Dit gebeur baie dat hierdie hulp nooit by die boer uitkom nie.

• In sekere gevalle waarvan die VF Plus bewus is, is droogtehulp wat in 2013 aangevra en goedgekeur is, eers in 2018 uitbetaal. In die belang van al die boere van Suid-Afrika en van voedselsekerheid, kan die situasie nie so voortduur nie en die VF Plus sal erns daarmee maak om die nodige veranderinge teweeg te bring.


Kontaknommer: 082 490 6663

 

TammyBreedtDroogtedroogtehulp

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!