Wes-Rand-distriksmunisipaliteit wil verantwoordelikheid van brandbestrydingsdienste aan munisipaliteite oordra

2019-11-19
Me. Amanda de Lange

Die besluit van die Wes-Randse distriksmunisipaliteit om die verskaffing van noodsaaklike brandbestrydingsdienste aan munisipaliteite oor te dra, sal bydra tot die verdere ineenstorting van die Mogale City-, Merafong- en Rand-Wes-plaaslike munisipaliteite.

Dit bewys die VF Plus se standpunt dat distriksmunisipaliteit faal en nie die dienste lewer wat hulle wetlike verplig is om te lewer nie. Die VF Plus is van mening dat distriksmunisipaliteite afgeskaf moet word en dat besluite oor diensverskaffing nader aan gemeenskappe gebring moet word.

Die vraag wat ook gevra moet word, is of die befondsing om hierdie dienste te kan verskaf aan die plaaslike munisipaliteite oorgedra gaan word.

Die Wes-Randse distriksmunisipaliteit het in sy jongste raadsvergadering aangekondig hy kan nie langer verantwoordelik wees vir die lewering van noodsaaklike dienste aan munisipaliteite nie. Ε‰ Proses om die dienste terug te plaas na die munisipaliteite het reeds begin en sal waarskynlik op 1 Januarie 2020 in werking tree.

Die VF Plus bevraagteken hierdie besluit omdat die Wes-Randse distriksmunisipaliteit nie by magte is om hierdie besluit te neem sonder insette van die Gautengse provinsiale wetgewer nie.

Finansiële verslae dui aan die distriksmunisipaliteit se skuld aan sy diensverskaffers, soos vir die huur van brandweerwaens, beloop reeds R86 miljoen.

Die geldelike verlies wat die distriksmunisipaliteit lei, word deels toegeskryf aan die rekeningstelsel se onvermoë om Ε‰ behoorlike rekening voor te berei. Die gevolg is dat die distriksmunisipaliteit duisende rand verloor met elke brandbestrydingsaksie.

Die VF Plus sal die aangeleentheid op provinsiale sowel as nasionale vlak bespreek en ondersoek om te verseker dat die plaaslike munisipaliteite nie deur hierdie besluit benadeel word nie.


Kontaknommer: 071 604 9498

AmandaDeLangeCoGTAWesRandDistriksmunisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!