Weggespoelde straat in Emalahleni herstel na volgehou druk van VF Plus

2021-10-07
Willie van Dyk

Herstelwerk aan Avrilstraat in Blanceville, Emalahleni/Witbank, het uiteindelik begin na volgehoue druk van die VF Plus.

Avrilstraat is ses jaar gelede tydens ʼn vloed beskadig en pleidooie van inwoners aan die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, eMalahleni/Witbank) om die pad te herstel, het op dowe ore geval.

Lekkende waterpype het mettertyd die straat verder weggekalwe en inwoners moes noodgedwonge hul eie bruggies bou om toegang tot hul eiendom te verkry.

Avrilstraat het ʼn veiligheidsrisiko geword vir alle padgebruikers.

Die VF Plus-kandidaat in Wyk 20, Linda Vorster, het ingegryp en vir maande druk op die munisipaliteit geplaas en geëis dat herstelwerk dringend gedoen word.

Die munisipaliteit het gehoor gegee en konstruksie om die straat te herstel, het op 28 September begin.

Alhoewel die VF Plus en inwoners verheug is oor die straat eindelik herstel word, is dit ʼn skande dat dit die Emalahleni ses jaar geneem het om aandag daaraan te skenk.

Die VF Plus sal toesien dat die brug in Tweedelaan in dieselfde wyk, wat ook weggespoel het, herstel word.

Inwoners het op 1 November die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en van die onbevoegde ANC-beheerde raad ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare raad wat sal toesien dat inwoners die dienste ontvang waarvoor hulle ten duurste betaal.


Navrae: 084 652 9164 / 082 887 5403

 

DiensleweringWillieVanDykEmalahleni

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!