Waterskaarste in Philipstown: Munisipale onbekwaamheid is die oorsaak

2021-08-04
Dr. Wynand Boshoff

Die gemeenskap van Philipstown in die Noord-Kaap ly jare reeds onder onbetroubare watervoorsiening. Dié dorp is deel van die Renosterberg-plaaslike munisipaliteit, waar die munisipale raad in 2020 weens wanadministrasie ontbind is.

'n Nuwe raad is in November 2020 verkies, maar swart ekonomiese bemagtiging (SEB) bepaal steeds aanstellings, pleks van bekwaamheid.

Renosterberg is in die media meer bekend vir kragonderbrekings in Vanderkloof, wat ook die gevolg van munisipale wanbestuur is.

Naas die setel van die munisipaliteit, Petrusville, is Philipstown die derde dorp in Renosterberg. Dit is in die Bo-Karoo geleë, sowat 50 km van die Vanderkloofdam en die Oranjerivier. Waterskaarste is egter nie die oorsaak van inwoners se watertekorte nie, maar swak beplanning en instandhouding van infrastruktuur.

Die VF Plus het herhaaldelik oor die afgelope agt jaar die kollig op Philipstown se probleme laat val. Dis nie net huishoudings wat waternood ervaar nie, maar ook skole en die kliniek.

Kundige waarneming lui dat die pylyn van die waterbron na die reservoir nie met terugslagkleppe toegerus is nie. Dit beteken dat sodra die pompe afgeskakel word, die reservoir weer dreineer. Verder het hoërliggende huise bykans nooit water nie wat bevestig dat die reservoirs nooit vol is nie.

Opgradering van die waterstelsel word wel periodiek gedoen as deel van die Molilo-windplaas buite die dorp se maatskaplike besteding. Hierdie kontrakteurs moet egter binne die raamwerk van die munisipaliteit se eie beplanning werk.

Karin Depken, VF Plus se aspirant-kandidaat vir die Pilipstown-wyk, kon na vele pogings met die burgemeester, Andrew Sampson, vergader. Die burgemeester was egter beledigend teenoor haar en het onder meer gestel dat sy niks met die saak te doen het nie omdat sy op 'n plaas buite die dorp woon.

Met hierdie uitspraak het Sampson die VF Plus se plaaslike regeringsbeleid onwetend onderskryf: Volgens dié party moet elke dorp deur sy eie plaaslike owerheid regeer word, terwyl buitestedelike gebiede slegs onder distriksrade behoort te val. Dit sal ook grondeienaars se belastinglas verlig. Daarenteen ly plaaslike regering onder die ANC se plan van kant-tot-wal munisipaliteite wat onder meer beteken dat Depken soveel belang by Philipstown het as die burgemeester self.

Die komende plaaslike regering bied inwoners van Philipstown en ander dorpe die geleentheid om vir die VF Plus se voorstelle vir meer doeltreffende plaaslike regering te stem.



DrWynandBoshoffWaterkrisisPhilipstownRenosterbergMunisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!