Waterrade laat Namakwaland hoog en droog

2022-07-18
James otto

Drie agtereenvolgende waterrade wat verantwoordelik was en is vir watervoorsiening aan die Nama Khoi-plaaslike munisipaliteit, het die inwoners van die munisipalitet gefaal en hoog en droog gelaat.

Die dorpe Springbok, Steinkopf, Okiep, Rooiwinkel, Concordia, Komaggas, Buffelsrivier, Nababeep, Bulletrap, Vioolsdrif, Goodhouse, Kleinzee en Carolusberg gaan al vir jare gebuk onder ernstige watertekorte.

Sedibengwater het die verantwoordelikheid van watervoorsiening aan die munisipaliteit op 4 April 2011 by die Namakwa-waterraad oorgeneem.

Intussen het Bloemwater Sedibengwater se pligte oorgeneem, maar die situasie het geensins verbeter nie.

Water word naby Goodhouse uit die Oranjerivier gepomp waarna dit aan die suiwerings- en behandelingswerke by Henkries gelewer word. Na behandeling word die drinkbare water via pypleidings na die dorpe versprei.

Die pyplyn tussen Goodhouse en Henkries is sowat 138km lank en teen ʼn bedrag van R500 miljoen opgegradeer.

Van die dorpe in die Nama Khoi-munisipaliteit is soms vir weke aaneen sonder water omdat waterinfrastruktuur nie ten volle voltooi is nie. Dit veroorsaak dat pype bars en krane droogloop.

Water moet dan met watertrokke na die onderskeie gemeenskappe aangery word op belastingbetalers se onkoste.

Beurtkrag veroorsaak verdere ongerief omdat die hameraksie van pompe wat aanskakel, pype laat bars.

Hierdie landstreek is vir sy droogtes bekend en die uitgestrektheid van die dorpe bemoeilik verspreiding van water selfs indien dit beskikbaar is.

Water is ʼn basiese lewensreg.

Hierdie gemeenskappe se regte word misken en dit is onaanvaarbaar.

Die VF Plus is van mening dat die mandaat om water aan Namakwaland te verskaf, plaaslik gesetel moet wees. Sentralisering het nie verbetering gebring nie.

WaterkrisisNamakwalandJamesOtto

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!