Waterkrisis in Nala (Bothaville en Wesselsbron) as gevolg van ANC se wanbestuur

2017-03-30
Desmond Reed

Dit is onaanvaarbaar dat betalende inwoners se basiese reg tot water deur die ANC-regering se totale onbevoegdheid en finansiële wanbestuur geskend word, sê Desmond Reed, VF Plus-raadslid in die Nala-munisipaliteit.

Nala-munisipaliteit (Bothaville en Wesselsbron) is tans sonder water omdat Sedibeng-water watertoevoer tot die munisipaliteit gesny het weens wanbetaling.

Alhoewel dit onaanvaarbaar is dat Nala-munisipaliteit nie hul rekeninge vereffen en ook nie effektief debiteure se skuld invorder nie, is die wyse waarop Sedibeng-water die watertoevoer afgesny het onwettig en onaanvaarbaar.

Daar het geen voorafgaande kennis aan inwoners van die munisipaliteit geskied nie. Inwoners kon dus nie die nodige voorsorg tref nie.

Volgens betroubare bronne sou die watertoevoer tot die munisipaliteit omstreeks tien uur gisteraand herstel gewees het vir 12 ure waarna dit weer gesny sou word.

Die VF Plus oefen op alle moontlike wyses druk op die munisipaliteit uit om so gou moontlik ‘n betalingsooreenkoms met Sedibeng-water te bereik.

Die VF Plus oorweeg ook stappe teen Sedibeng-water as gevolg van hulle ongrondwetlike optrede. Die munisipale bestuurder sal ook aanspreeklik vir hierdie krisis gehou word.

 

Kontaknommer: 082 770 6201


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!