Waarom was Shaun Abrahams by Luthuli Huis?

2016-11-29
Dr Corné Mulder

Dit is totaal onaanvaarbaar dat die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), adv. Shaun Abrahams, enigsins na Luthuli Huis moes gaan om die vervolging van die minister van finansies, mnr. Pravin Gordhan, met die ANC te bespreek aangesien dit die plek is waar die ANC politieke besluite neem, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag met die debat oor die gevolge van die NVG se besluite op die ekonomie ook gesê dit is belaglik om ʼn dringende parlementêre debat van nasionale openbare belang soos dié eers twee weke nadat dit versoek is, te bespreek, en dit boonop laat in die middag.

Hy het gesê die aangeleentheid moes twee weke gelede gedebatteer gewees het toe dit die groot openbare besprekingspunt was.

“Die ANC het nou hier gesê hulle staan die onafhanklikheid van die NVG voor. Dit is nie waar nie. Op die 4de November hierdie jaar, nadat die ANC Abrahams na Luthuli Huis ontbied het, het ʼn ANC-lid in die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie gesê daar is niks daarmee verkeerd dat die NVG-hoof Luthuli Huis besoek nie.

“Sy het gesê die doel van die NVG is om die ANC se mandaat as regerende party uit te voer. Nou kom die ANC hier en sê hy respekteer die NVG se onafhanklikheid. Dit is nie waar nie.

“Die ANC probeer almal nou ook hier oortuig om nie sleg te praat oor Suid-Afrika nie en om saam as ʼn span te trek in belang van die land en om beleggers nie af te skrik nie.

“Daar is egter geen slegter manier om die land se naam te beswadder as om die minister van finansies op opgemaakte en vals klagte aan te kla en daardie boodskap die wêreld in te stuur nie.

“Voordat die minister van finansies aangekla word, moet jy ʼn miljoen persent seker wees van jou saak, nie net ʼn honderd persent nie.

“Nadat die direkteur van die NVG aanvanklik gesê het daar is bewyse om die minister aan te kla, moes hy drie weke later op vernederende wyse die klagte terugtrek.

“Die hele aangeleentheid was ʼn tragiese vergryp van die reg. Waarom moes Abrahams na Luthuli Huis gaan waar politieke besluite deur die regerende party geneem word? Dit is totaal onaanvaarbaar. Die NVG mag nie daar naby gesien word nie.

“Dit is duidelik dat die ANC die NVG misbruik en dit kan nie toegelaat word nie,” het dr. Mulder gesê.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!