Vrystaatse LUR te bang om pa te staan vir mislukte munisipaliteite

2019-11-19
Dévar Smit

Dit is vandag weereens bevestig dat die Vrystaatse LUR van samewerkende regering, Skully Nxangisa, dink dat hy geen politieke verantwoordbaarheid vir munisipaliteite onder sy beheer hoef te aanvaar nie.

Vrystaatse munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is (Mafube, Masilonyana en Maluti-a-Phofung) sou verlede week voor die Vrystaatse wetgewer se komitee oor openbare rekeninge verskyn het, maar dit is uitgestel weens die afwesigheid van Nxangisa.

Dié verskyning sou vandag plaasvind, maar is weer uitgestel nadat Nxangisa nie opgedaag het nie. Sy aanhoudende afwesigheid beklemtoon sy ongeërgdheid om verantwoording te doen oor mislukte munisipaliteite.

Maluti-a-phofung is een van die grootste mislukkings van die ANC-regering met meer as R4 miljard uitstaande skuld aan Eskom.

Daar is onlangs in die Masilonyana-raad aangekondig dat dié munisipaliteit onder administrasie verwyder is. Dit terwyl die finansiële krisis vererger en Eskom dreig om dié munisipaliteit se elektrisiteit-toevoer op te skort weens wanbetaling. Nxangisa moes vandag in besonder verantwoording doen oor dié ongegronde politieke besluit.

Die tekort aan politieke wil en leierskap laat gemeenskappe in die steek. Die betrokke politici ontduik hul verantwoordelikhede deur weg te kruip agter verskonings. Vergaderings kan nie keer op keer uitgestel word omdat politici te bang is om verantwoordelikheid te neem vir die chaotiese stand van munisipaliteite nie. Provinsiale administrasie faal hierdie munisipaliteite.

Sekere van die munisipaliteite wat vandag sou verskyn, se verteenwoordigers het al drie keer reiskostes aangegaan, maar is weggewys omdat amptenare en politici nie die komitee se oorsigrol ernstig opneem nie.

Die belastingbetaler dok vir hierdie reiskostes op terwyl daar nie dienste in munisipaliteite gelewer word nie. Munisipaliteite moet daarop fokus om die belastingbetaler se geld korrek aan te wend en die nodige dienste te verskaf.

Die enigste oplossing vir hierdie mislukte munisipaliteite is om hulle te verdeel in kleiner, meer vaartbelyne munisipaliteite waar dienslewering nader aan die gemeenskappe kan geskied.

Die VF Plus eis dat die LUR gedagvaar word om voor die komitee te verskyn en in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word vir alle verkwiste reiskostes.


Kontaknommer: 084 206 3375

VrystaatMunisipaliteiteDevarSmit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!