Vrystaatse departement van gesondheid moet plaaslike hulpbronne benut om druk op gesondheidsektor te verlig

2018-04-18
Tammy Breedt

Hier volg uittreksels uit die VF Plus-LPW, Tammy Wessels, se toespraak tydens die begrotingsposdebat van die Vrystaatse departement van gesondheid vandag in die Vrystaatse wetgewer.

Die Vrystaatse departement van gesondheid was onder administrasie omdat hy nie aan sy statutêre funksies kon voldoen nie. Gesondheidsorg in die Vrystaat verkeer in ‘n ewigdurende krisis van wanbestuur, wanbesteding en ‘n geweldige tekort aan dokters, verpleegpersoneel, medikasie, toerusting en ander hulpbronne.

Midde in die krisis belê die Vrystaatse regering daarin om studente in Kuba, China en Rusland te laat studeer, terwyl Suid-Afrika oor topklas mediese skole beskik soos die van die Universiteit van die Vrystaat.

Die onderrig wat studente in Kuba ontvang voldoen nie aan die gesondheidsorg-standaarde en omstandighede in Suid-Afrika nie. Kubaanse dokters kan hoogstens gesondheidsorg in klinieke verleen, waar primêre gesondheidsorg toegepas word. Hulle word nie opgelei om gevalle soos die wat voorkom in Suid-Afrikaanse hospitale behoorlik te identifiseer en te behandel nie.

Studente wat deur die Vrystaatse regering na China gestuur is en reeds vir drie jaar gestudeer het, moet nou in Rusland hul studies voortsit op die onkoste van die Vrystaatse belastingbetalers omdat die kurrikulum in China nie aan die nodige standaarde voldoen nie.

Soveel meer studente kon aan Suid-Afrikaanse universiteite studeer en as dokters gekwalifiseer het in die tyd en met die finansiële hulpbronne wat deur hierdie sinnelose buitelandse onderrigprogramme vermors is.

Onderrigprogramme wat weens historiese lojaliteite van stapel gestuur is, terwyl daar nie behoorlik aan die vraag na dokters in Suid-Afrika voorsien word nie.

Daar is honderde voornemende studente wat nie keuring kry vir mediese studies op grond van verskeie faktore, soos onder andere velkleur nie.

Die Vrystaatse departement van gesondheid behoort eerder hande te vat met die onderwysdepartement en maatreëls daarstel om die kapasiteit van ons mediese skole uit te brei en meer studente die geleentheid te bied om keuring te kry en mediese studies aan plaaslike universiteite, soos die Universiteit van die Vrystaat, te voltooi. Sodoende sal makliker aan die vraag na bekwame mediese personeel, wat behoorlik opgelei is, voldoen kan word.

Die regering se Nasionale Gesondheidsorgplan sal ook klaaglik faal met die huidige stand van openbare gesondheid.

Die Vrystaatse departement van gesondheid kan nie behoorlike gesondheidsorg aan die gemeenskap van die Vrystaat verleen nie en die probleem sal nie aangespreek word deur gedwonge bydraes tot ‘n plan wat bloot die druk op openbare gesondheidsorg-instansies sal verhoog nie.

Die regerende party voldoen nie aan hul grondwetlike plig om behoorlike gesondheidsorg aan die mense van die Vrystaat te voorsien nie omdat politieke motiewe en selfdienende neigings hoogty vier.

Die mense van die Vrystaat verdien beter. Die mense van die Vrystaat verdien behoorlik opgeleide mediese personeel en behoorlike bestuur en voorsiening van hulpbronne wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken.


Kontaknommer: 082 490 6663


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!