Vrae oor ANC-pogings om politieke munt te slaan uit Etzebeth-saak

2019-10-09
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus het kennis geneem van ʼn berig vandag op Netwerk24 met die opskrif “Optog in Langebaan beplan oor die Etzebeth-saak”. In die berig word stellings oor die VF Plus gemaak wat kwaadwillig en van alle waarheid ontbloot is.

Mnr. Sammy Claassen, ʼn gemeenskapsleier en openlike ANC-simpatiseerder, word in die berig aangehaal waar hy ʼn skerp aanval op die VF Plus oor die aangeleentheid doen. Dit is gepubliseer sonder om die VF Plus se kommentaar op die uitlatings te kry.

Luidens die berig sê hy onder meer die bruin gemeenskap staan saam teen ʼn party soos die VF Plus wat “sy rug op die bruin gemeenskap draai”.

Ook: “... die VF Plus het sy ondersteuning aan Eben Etzebeth toegesê en gewys dit is oukei vir die wit man om ‘coloureds-mense’ h*tn*tt* te noem en hulle aan te rand”.

Hierdie uitlatings van Claassen is kommerwekkend en laat die vraag ontstaan tot watter mate die ANC betrokke was daarby om ʼn politieke speelbal van die aangeleentheid te maak. Dit is onaanvaarbaar en gevaarlik vir ʼn politieke party om sulke aangeleenthede te plooi of te dryf vir politieke gewin.

Die VF Plus het wel kritiek uitgespreek op die MRK se hantering van die aangeleentheid, en dit is reg bewys deur die MRK se eie erkenning gister dat hy die optrede van die nasionale hoof van sy regsdienste, adv. Buang Jones, rakende die aangeleentheid gaan ondersoek.

Die VF Plus se standpunt oor rassisme is goed gedokumenteer. Die party sal geen vorm van rassisme van enige kant duld nie en keur dit ten sterkste af dat ʼn situasie soos die Etzebeth-aangeleentheid vir goedkoop politieke gewin gebruik word.

Dit het die potensiaal om groot skade te veroorsaak aan menseverhoudinge in die land, soos duidelik in hierdie saak gesien kan word.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!