Volhoubare ontwikkeling, eerder as toelaes is die sleutel tot uitroei van armoede

2017-03-28
Wouter Wessels

Armoede sal nooit bekamp word deur maatskaplike toelaes nie en om die grootste gedeelte van die samelewing afhanklik te hou van maatskaplike toelaes, mag dalk polities winsgewend wees vir die regerende party, maar dit is nie volhoubaar nie. Daar moet eerder op ontwikkeling gefokus word, het Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, vandag in ‘n debat oor die departement van maatskaplike ontwikkeling se begroting gesê.

Wessels het die regering beskuldig dat hul lippediens en weinig meer doen vir die jeug en jeugontwikkeling van die Vrystaat en Suid-Afrika as ‘n geheel. Dit is ‘n skande dat die meeste jeugbemagtigingsprogramme en -projekte nooit van die grond af kom nie en misluk weens korrupsie, swak bestuur en gebrekkige leierskap.

Wessels het sy kommer oor die stand van kinderhuise in die provinsie uitgespreek. Kinderhuise sukkel om in die basiese behoeftes van die kinders in hul sorg te voorsien. Tans moet hulle oor die weg kom met so min as 'n skamele R14 per kind per dag.

“Ontoereikende finansiering van nie-winsgewende organisasies soos kinderhuise en tehuise vir gestremdes is ‘n skending van die weerloosste mense in ons samelewing se basiese menseregte en die regerende party behoort hulle te skaam,” het Wessels gesê.

Die onlangse stakings van maatskaplike werkers wat verwoesting gesaai het in die strate van Bloemfontein plaas nog meer druk op kinderhuise en nie-winsgewende organisasies en noodsaak die departement om ernstig na sy prioriteite en bestuur te kyk.

Die departement se begroting is reeds ontoereikend, dus sal goeie finansiële bestuur en kostebesparing dringend toegepas moet word.

Daarteenoor is al meer voorskoolse ontwikkelingsentrums besig om toe te maak en die oprigting van nuwe sentrums is vertraag as gevolg van gebrekkige befondsing. Die belangrikste tydperk van ‘n kind se ontwikkeling is tussen 0 tot 4 jarige ouderdom en in die Vrystaat, waar slegs ongeveer 55% van graad 1’s matriek haal is vroeë stadium ontwikkeling van kardinale belang.

Ontwikkeling behoort hierdie departement se grootste doelwit te wees. Om armoede in die Vrystaat uit te roei is ‘n nuwe denkrigting nodig. Die ANC moet die realiteit en die lyding van die mense in die provinsie hoër ag as sy magsbeheptheid en mislukte ideologie.

Kontakbesonderhede: 082 674 6670 / 072 997 8315


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!