(Debat in parlement)
Die versugting na 'n skool vir die Gong-Ghong-Griekwagemeenskap naby Barkly-Wes in die Noord-Kaap, gaan oor meer as net 'n skool.
Dit gaan oor 'n gemeenskap wat sy identiteit wil behou, sy ekonomie wil bou, sekerheid van grondeienaarskap wil hê en sy kinders teen hierdie agtergrond wil grootmaak. Die VF Plus ondersteun hierdie strewe, hoewel 'n parlementêre verslag teen die bou van 'n skool vir Gong-Gong adviseer.
Dit is vir jare reeds regeringsbeleid om kleiner landelike skole liewer by groter dorpskole in te lyf as om die landelike skole se lewensvatbaarheid te verseker. Dit behels onder meer dat skoolvervoer verskaf moet word.
Die VF Plus se beleid, daarenteen, is dat die skool deel van die gemeenskap moet wees en dat skole so na as moontlik aan kinders se ouerhuise moet wees. Veral waar 'n duidelik omlynde gemeenskap ter sprake is, in teenstelling met wonings wat wyd verspreid is, maak dit sin.
Die beleid van skoolsentralisering en -vervoer het met die Covid-19-krisis onvoorsiene probleme op die lyf geloop. Die vereiste om sosiale afstand te handhaaf, in busse en in klaskamers, is moeilik om aan te voldoen. Skole nader aan die huis, waarheen kinders met gemak en veiligheid kan stap, is gevolglik vandag meer aantreklik as 'n jaar gelede.
In Gong-Gong is 'n gemeenskap wat reeds oor baie jare hul huidige woonplek beset. Tog is dit nie hul eiendom nie. Die grond is in 1986 deur die staat vir die gemeenskap gekoop, maar in die nuwe munisipale bedeling is dit aan die Dikgatlong-plaaslike munisipaliteit oorgedra.
Hierdie munisipaliteit hanteer die inwoners van Gong-Gong, wat 'n hegte en samehangende gemeenskap is, as huurders op munisipale grond. Dit dra geensins by tot die gemeenskap se gevoel van verblyfsekerheid en bereidheid om in hul eie gebied te belê nie.
Terwyl die gemeenskap al die jare hul eie skool gehad het, het dit in 1988 afgebrand. Sedertdien poog hulle vergeefs om weer 'n skool van hul eie te kry.
Die Noord-Kaapse onderwysdepartement voer aan dat dit meer doeltreffend is om die kinders na naburige skole te vervoer. In dié gesprek is daar botsende aansprake oor hoeveel kinders ter sprake is.
Die departement voer aan dat dit 30 laerskool- en 48 hoërskoolkinders is, maar gemeenskapslede hou vol dat 450 of meer kinders ter sprake is. Van die mees voortreflike skole in die Noord-Kaap het in die omgewing van 300 kinders in 'n gekombineerde laer- en hoërskool.
Aangesien 'n skool nie maar net 'n opleidinginstansie is nie, maar 'n orgaan van elke gemeenskap, een waarsonder die gemeenskap nie volle sosiale-, ekonomiese-, en kulturele wasdom kan bereik nie, ondersteun die VF Plus die Griekwa-gemeenskap van Gong-Gong in hierdie strewe.
Navrae: 074 166 5540