Vinnige optrede en skorsing van amptenare wat verbind word met Digital Vibes-skandaal word verwelkom

2021-09-30
Philip van Staden

Die VF Plus verwelkom die aankondiging dat al sewe amptenare in diens van die departement van gesondheid wat in die verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) verbind word met die Digital Vibes-skandaal, teen vanmiddag geskors gaan word.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het vanoggend aangekondig dat daar ook dissiplinêr teen die amptenare opgetree gaan word.

Die bewyse wat die SOE ingewin het, is van ʼn ernstige aard en moet deel vorm van die dissiplinêre proses.

Die VF Plus sal ook wil sien dat strafregtelike optrede teen die amptenare onmiddellik ingestel word. Die persone mag nie wegkom met blote dissiplinêre stappe wat gepaard gaan met goue handdrukke en ʼn bedanking nie.

Die minister se onderneming dat niks rondom die aangeleentheid onder die mat ingevee sal word nie, word verwelkom.

Die VF Plus sal die minister by hierdie onderneming en belofte hou.

Die departement se ontkenning dat die Digital Vibes-sage nie ʼn negatiewe invloed op die departement se werksaamhede of in die bekamping van Covid-19 gehad het nie, is nie eerlik nie.

Die waarheid is dat die departement nie genoeg fondse gehad het vir sy kommunikasieveldtogte oor inentings nie en dit het grootliks daartoe bygedra dat die inligting aan die publiek hieroor uiters gebrekkig was en steeds is.

Die reg moet nou sy gang gaan en diegene wat beskuldig word in die SOE-verslag, moet hul dag in die howe kry asook die straf wat hulle toekom.



 

PhilipVanStadenGesondheid#DigitalVibes

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!