VF Plus wys pres. Ramaphosa op sy ontkenning van probleme soos plaasmoorde en redes vir ekonomiese agteruitgang

2019-06-25
Dr Pieter Groenewald

Die tyd het aangebreek dat president Cyril Ramaphosa moet ophou met sy ontkenning van die land se probleme soos plaasmoord en dat hy eerlik moet wees oor die mislukking van Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB).

Dit was die fokuspunte van die VF Plus in repliek op die pas afgelope staatsrede van pres. Ramaphosa.

Die VF Plus het male sonder tal daarop klem gelê dat dié party hom saam met sy ondersteuners daartoe verbind het om Suid-Afrika te help opbou. Die president het voor die verkiesing gesê hy wil jong wit mense aan ʼn boom vasmaak om te verhinder dat hulle land verlaat. Die werklikheid is egter dat hulle land verlaat weens RA.

Wette wat uitvoering gee aan RA en SEB lei daartoe dat wittes en ander minderhede nie werk kry nie en daarbenewens veroorsaak misdaad dat kundiges soos 110 ingenieurs in die konstruksiebedryf die land verlaat.

Die president moet begin insien dat dit ʼn skop in die tande van veral jong witmense is deur te volhard met wetgewing wat teen hulle diskrimineer en hulle uit die werkmark hou. Veral SEB verryk net ʼn klein swart elite.

Die optrede van Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, is nog ʼn voorbeeld waar wittes die sondebok gemaak word vir probleme in dié provinsie se skole terwyl dit toegeskryf kan word aan die onbevoegdheid van die ANC en die LUR. Die vraag aan die president is of daar ʼn probleem is met die Afrikaanse taal. Ook daaroor swyg die president.

Misdaad speel ʼn groot rol in die aftakeling van die ekonomie. Hoe kan die ekonomie groei as daar ʼn konstruksie-mafia is wat 74 projekte tot stilstand laat kom het deur aan te dring op aandeelhouding van 30% in die maatskappye? Onlangs is sestien vragmotors oor een naweek aan die brand gesteek is en ʼn persoon is in die aanvalle dood.

Die VF Plus wil ook prontuit aan die president vra waarom dit so moeilik is om plaasmoorde te erken en te veroordeel? Ná enkele aanvalle op moskees verlede jaar was daar tereg onmiddellike optrede van die president, maar oor plaasmoorde, wat met die ergste marteling gepaard gaan, swyg hy.

Die VF Plus sal die president nooi na ʼn plaasmoord-begrafnis sodat hy die werklikheid daarvan eerstehands kan ervaar, en sal dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, op sy beurt ʼn begrafnis bywoon waarheen die president hom nooi.

Die president moet ook die afbrekende rol van vakbonde erken. Hul magte moet ingeperk word om die ekonomie te laat groei. Vakbonde kan nie langer aan die regering voorsê wat om te doen en hoe om op te tree nie.

Rakende Artikel 235 van die Grondwet wat betrekking het op selfbeskikking, bepaal die artikel dat wetgewing die uitvoering daarvan sal bepaal. Hieroor bestaan ʼn akkoord tussen die VF Plus, die ANC en die regering wat in 1994 aangegaan is.

Die tyd het aangebreek om beslag aan die akkoord te gee om sodoende die weg voor te berei vir die uitvoering van Artikel 235 en selfbeskikking. Dit is die enigste artikel in die Grondwet wat bepaal dat nasionale wetgewing wel daaroor geskryf moet word wat na 25 jaar steeds nie gedoen is nie. Daar bestaan dus ʼn grondwetlike verantwoordelikheid en plig om dit uit te voer en die VF Plus het die president versoek om hieroor ʼn vergadering te hou.

Die president kan nie langer sy oë sluit en die realiteit van die land se probleme ontken omdat hy ʼn gevangene van die ANC is nie. Hy moet daarvan wegbreek. Dan kan hy die land en die ekonomie red.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!