VF Plus wil by minister weet oor aptekersraad se ‘boelie’-e-pos oor NGV

2019-10-16
Philip van Staden

Die VF Plus wou gister tydens ‘n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee by die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, weet oor ‘n ‘boelie’-e-pos wat die aptekersraad aan lede in die farmaseutiese bedryf gestuur het wat aandui dat lede ‘n aanhangsel op die e-pos moet voltooi met die woorde: “I, as a pharmacy professional, support NHI.” Lede is versoek om die e-pos terug te stuur voor of op 25 Oktober 2019.

Die VF Plus het die e-pos aan die minister gewys en wou by hom weet of hy kennis daarvan dra en of hy die aptekersraad opdrag gaan gee om die e-pos terug te trek aangesien dit baie duidelik is dat lede in die bedryf nou geboelie en gedwing word om ‘n politieke besluit te neem ten gunste van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Die minister het enige kennis van die e-pos ontken. Hy het gesê Suid-Afrika is ‘n demokrasie en niemand kan gedwing word om die NGV te ondersteun of nie te ondersteun nie. Die VF Plus het hom daarop gewys dat lede in die bedryf voel hul word gedwing om die NGV te ondersteun.

Minister Mkhize het die VF Plus gevra om hom persoonlik in te lig indien dit sou blyk dat die aptekersraad enige persoon sou dwing om hul stem ten gunste van die NGV uit te bring. Volgens die minister ondersteun die aptekersraad die NGV.

Die VF Plus sal die saak monitor en versoek almal wat in die farmaseutiese bedryf is om, sodra hul deur die aptekersraad gedwing word om hierdie e-pos te voltooi ten gunste van die NGV, die VF Plus dadelik daarvan in kennis te stel. Klagtes kan aangestuur word na: help@vfplus.org.za.

 

Kontaknommers: 060 556 4347 / 065 81 7216

PhilipVanStadenGesondheid

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!