VF Plus wens Transnet-pensioenarisse en regspan geluk met finalisering en skikking van hofsaak

2020-06-22
Adv Anton Alberts

Die VF Plus wens die Transnet-pensioenarisse en die regspan geluk met die finalisering van die negejaar-lange hofsaak teen Transnet. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het vandag die skikking finaal tot ‘n hofbevel verklaar. Die hofbevel berei nou die implementering van die skikking voor wat die finansiële status van die pensioenarisse sal verbeter. Die VF Plus spreek ook sy besondere dank uit aan die regspan bestaande uit Wynanda Coetzee (prokureur) en advokate Jaap Cilliers, Wim Trengove Leon Kellerman.

Hierdie was ‘n lang en moeisame stryd. Dit is natuurlik jammer dat die hofsaak so lank uitgerek was deur Transnet onder die Zuma-bedeling. Dit het veroorsaak dat baie pensioenarisse ongelukkig afgesterf het en nie kan deel in vandag se oorwinning nie. Nogtans is die VF Plus dankbaar dat die wenstreep bereik is. In daardie opsig is die pensioenarisse wat nie meer met ons is nie, pioniers wat ‘n pad oopgekap het vir dié wat vandag saam die oorwinning kan vier.

Die VF Plus het deur adv. Anton Alberts as LP ‘n politieke rol gespeel deur die saak deurlopend in die parlement aan te spreek wat uiteindelik gelei het tot talle gesprekke met minister Pravin Gordhan wat uiteindelik beveel het dat ‘n skikking ondersoek moet word. Op hierdie wyse is die tafel gedek wat uiteindelik gelei het tot die geleentheid vir die regspan om ‘n skikking te onderhandel.

Die VF Plus is dankbaar vir die finalisering van die saak en sal voortgaan om oorsig te doen om te sorg dat die skikking na behore uitgevoer word en dat oorsig oor die bestuur van die pensioenfondse verskerp word.


Navrae: 082 391 3117

AdvAntonAlbertsTransnetPensioenarisseHofuitspraakPenioenarisOorwinning

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!