Met die dreigende moontlikheid van ’n Cholera-uitbreking in die Vhembe-distriksmunisipaliteit, het die VF Plus ʼn dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van dié munisipaliteit, me. Tshimangadzo Ndou, om daadwerklik die riool- en waterkrisis in die gebied op te los.
Dit volg nadat die VF Plus verneem het van ’n Limpopo-man van Musina wat met Cholera-simptome in ’n Gautengse hospitaal opgeneem is.
Die VF Plus het reeds in Maart 2023 'n klag by die menseregtekommissie (MRK) asook ’n strafregtelike klag ingedien teen die distriksmunisipaliteit oor onder meer die voortslepende waterkrisis waaraan niks gedoen word nie.
Die distriksmunisipaliteit het 'n wetlike verpligting om drinkbare water en ’n skoon, veilige omgewing aan sy eindgebruikers, die inwoners van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, te verskaf.
Sonder water kan daar nie behoorlike sanitasie wees nie wat ʼn gesondheidsrisiko vir inwoners inhou.
Limpopo se gesondheidsdepartement het intussen reaksiespanne ontplooi na die Waterberg-, Mopani- en Vhembe-distrikte.
Die VF Plus sal aanhou druk toepas en daarop aandring dat oplossings gevind word vir Vhembe-distrik se waterkrisis en ander diensleweringsprobleme.