VF Plus-vrae aan ministers wys op verval van munisipaliteite

2021-09-15
Mnr. Michal Groenewald

Die verval van munisipaliteite in Suid-Afrika en die rol van ANC-binnegevegte hierin, is ʼn kommerwekkende werklikheid en vrae van die VF Plus aan onder andere die minister van plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, bevestig dat die situasie so haglik is dat krisisbestuur normale dienslewering grootliks vervang het.

(Volledige vrae en antwoorde aangeheg)

Op ʼn vraag oor planne vir die onderhoud van infrastruktuur regoor Suid-Afrika, en waar dit volledig of gedeeltelik in werking gestel is, blyk dit uit minister Dlamini-Zuma se antwoord dat slegs 45% van alle munisipaliteite in die land planne het vir die instandhouding van infrastruktuur vir hul onderskeie munisipale dienste.

Van hierdie 45% munisipaliteite implementeer slegs 10% die planne ten volle, oftewel minder as 5% van alle munisipaliteite in die land.

Luidens die ouditeur-generaal (OG) se verslag ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) het 41% van die geouditeerde munisipaliteite geen goedgekeurde beleid oor die roetine-instandhouding van water- en sanitasie-infrastruktuur nie terwyl 27% geen padonderhoudsplanne nie.

Dit beteken dat by ʼn derde van munisipaliteite landwyd paaie verval sonder enige onderhoudsplan.

In antwoord op die vraag oor die stappe wat geneem word om die negatiewe gevolge van politieke binnegevegte op dienslewering te voorkom, erken die minister dat dit munisipaliteite se vermoë om diens te lewer benadeel, maar dit blyk ook dat niks daadwerklik daaraan gedoen word nie.

Die minister gee ʼn onbeduidende antwoord oor wat gedoen móét word om die binnegevegte stop te sit asook ʼn lys van raadslede se pligte. Hierdie antwoord is absoluut niksseggend en dien as bewys dat die ANC geen voorkomende plan op die tafel het om sy eie binnegevegte, wat reeds talle lewens geëis het, te bekamp nie.

In antwoord op die kwessie van gespesialiseerde kundigheid soos ingenieurs in die onderskeie afdelings op plaaslike vlak, blyk dit dat daar tans 53 vakatures vir die pos van tegniese direkteur by munisipaliteite is.

Oor hoe die tekorte reggestel gaan word, is die antwoord dat plaaslike owerhede nie wetlik verplig word om kundiges soos geregistreerde meganiese-, elektriese-, siviele- en chemiese ingenieurs in diens te neem nie.

Volgens die minister volg elke plaaslike owerheid ʼn goedgekeurde organisasiestruktuur om persone met vaardighede in ooreenstemming met toepaslike regulasies en behoeftes aan te stel.

Die VF Plus sien hierdie tekort aan kundigheid as ʼn groot rede vir die verval aan infrastruktuur en dit kan grootliks toegeskryf word aan die gevolge van regstellende aksie (RA) wat ʼn direkte impak op dienslewering het.

Aangaande die veilige storting van gevaarlike en huishoudelike afval, het die VF Plus ʼn vraag gerig aan me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, oor die aantal munisipaliteite in elke provinsie wat aansoek gedoen het om lisensies te bekom vir die behandeling en wegdoening van gevaarlike afval ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval.

Gevaarlike afval word allerweë beskou as die volgende groot tydbom ná die huidige krisis met water, krag en riool. Dit hou ʼn ernstige bedreiging in vir lewe en die omgewing en die groot opbou van afval deur onder meer chemiese- en metaalaanlegte verger die probleem by die dag.

Die ontstellende antwoord hierop is dat net twee munisipaliteite in Suid-Afrika aansoek gedoen het. Dit stuur onvermydelik af op ʼn volgende ramp wat die ANC-regering voor hom sien ontwikkel en afspeel. Ook hier sal die situasie waarskynlik net so gelaat word totdat daar eindelik krisisbeheer toegepas moet word.

Die ANC is besig om Suid-Afrika op plaaslike vlak ten gronde te laat gaan. Alle regdenkende Suid-Afrikaners het op 1 November die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan en die verval onder ANC-beheer stop te sit voordat dit te laat is.



 

DiensleweringMichalGroenewaldPlaaslikeRegeringCoGTA

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!