VF Plus vra spoedige ondersoek na tenderongerymdhede, herwinning van verlore fondse en verantwoordbaarheid

2020-07-31
Me. Amanda de Lange

Die VF Plus verwelkom die aankondiging dat die Gautengse LUR vir gesondheid, dr. Bandile Masuku en sy vrou, Loyiso Lugayeni-Masuku, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste, op verpligte verlof geplaas is hangende 'n ondersoek na Covid-19-tenderongerymdhede met die verskaffing van toerusting en beskermende drag, en eis dat die ondersoek so spoedig moontlik afgehandel moet word.

Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat alle bewerings van korrupsie en bedrog deeglik ondersoek word, dat die skuldiges verantwoordbaar gehou word en verlore fondse herwin word. Dit is ook belangrik dat hierdie ondersoeke en gevolglike vervolgings spoedig moet plaasvind en dat dit nie so lank soos ander sake waar politici by beweerde korrupsie betrek is mag neem nie.

Die onderneming van Madsikane II Thandisizwe Diko, Royal Bhaca Projects, is een van die ondernemings wat na bewering ‘n tender van R125 miljoen onreëlmatig bekom het en waarby Masuku en sy vrou betrek word.

Die Gautengse premier, David Makhura, het gister bevestig daar word 'n ondersoek geloods na tenderongerymdhede in die Gautengse gesondheidsdepartement en dat Masuku en sy vrou ook deur die ANC se integriteitskomitee ondersoek word.

Die VF Plus is nie verbaas oor die beweerde Covid-19-tenderbedrog ter waarde van R1 miljard deur die Gautengse departement van gesondheid nie. Dit is egter belangrik dat nie slegs amptenare verantwoordelik gehou word nie, maar dat betrokke politieke ampsbekleërs ook vervolg word.

Dit is duidelik dat daar 'n groot hoeveelheid amptenare en politici by die enorme omvang van die moontlike korrupsie en ongerymdhede betrokke is.

Die ondersoek na tenderongerymdhede deur die Gautengse gesondheidsdepartement volg kort na die VF Plus in die wetgewer versoek het vir forensiese ondersoeke in verskeie departemente met die klem op ongerymdhede met die toekenning van kontrakte aan diensverskaffers en die aankoop van eiendom deur die provinsie teen verhoogde pryse van tot 300%.

Suid-Afrikaners het gewoond geraak aan ANC-kaders wat die belastingkoffers plunder. Die tendens het egter ‘n nuwe vlak bereik waar broodnodige Covid-19-fondse, wat die verskil tussen lewe en dood vir landsburgers beteken, maar het net weer in die ANC-elite se sakke beland.

Navrae: 071 604 9498

GautengAmandaDeLangeKorrupsie#Covid19Fondse

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!