VF Plus vra Mogale City-munisipale bestuurder om verslag te lewer oor hoeveel geld in die 2020-21-finansiële jaar aan die onderhoud en herstelwerk van munisipale eiendom bestee is

2021-10-08
Tjaart Steenkamp

Die VF Plus het mnr. Pringle Raedani, munisipale bestuurder van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) skriftelik versoek om verslag te lewer oor hoeveel geld die munisipaliteit in die 2020/21-finansiële jaar bestee het aan die onderhoud, herstelwerk en opgradering van munisipale vaste-eiendom asook nuwe kapitaalbesteding.

Volgens wetgewing word munisipaliteite verplig om jaarliks 8% van die boekwaarde van eiendom, toerusting en aanlegte aan onderhoud en herstelwerk te bestee.

Mogale City het in die 2019/20-finansiële jaar slegs 4,24% bestee aan herstelwerk en onderhoud, wat ʼn tekort van R242 miljoen is. Mogale City het trouens die afgelope twaalf jaar tot en met 30 Junie 2020 R4,156 miljard te min aan onderhoud en herstelwerk bestee.

Die munisipaliteit moet ook tussen10% en 20% van sy totale uitgawes op kapitale besteding bestee (nuwe bates en opgradering daarvan). In die 2019/20 finansiële jaar het Mogale City tussen R114 miljoen en R421 miljoen te min op nuwe bates en opgradering bestee. Oor die afgelope twaalf jaar was daar ʼn kapitale onderbesteding van R599 miljoen.

Die VF Plus wil ook in besonder weet hoeveel geld in die 2020/21-finansiële jaar bestee is aan die onderhoud en opgradering van die Flip Human-rioolplaas, Krugersdorp-wildtuin en die Bob van Reenen-stadion.

Die Krugersdorp-wildtuin, onder bestuur en eienaarskap van die munisipaliteit, het in 2018 sy deure vir die publiek gesluit. Verskeie huurkontrakte is oor die jare met private maatskappye gesluit, maar is telkens beëindig en die verval het bly toeneem.

Die wildtuin het eens ʼn welkome inkomste vir die munisipaliteit gegeneer, maar nou lê rommel die wêreld vol, gras groei kniehoogte en vervalle geboue is aan die orde van die dag. Die wildtuin was jare gelede die speelplek van rolprentmakers, entoesiastiese kampeerders en besoekers wat naweke tougestaan het om dit te besoek. Die restaurant en konferensiegeriewe was ook baie gewild.

Die Bob van Reenen-stadion, wat in 2013/14 vir sportbyeenkomste gesluit is nadat ʼn ooreenkoms met ʼn sokkerklub misluk het, is deur die jare gevandaliseer en pogings van die munisipaliteit om die stadion te herbou, was vrugteloos.

Intussen word atlete van die geleentheid ontneem om aan sportgeleenthede deel te neem en veral atlete in landelike gebiede het nie die geleentheid om hul talent te ontgin nie.

Die Flip Human-rioolplaas is 20 jaar gelede gereken as een van die modernste rioolwerke in die land. Die watersuiweringswerke besit sy eie laboratorium. Die munisipaliteit het ʼn suksesvolle grasplaas langs die rioolplaas bedryf, maar van dié inkomste-genererende projek is daar niks oor nie. Onverwerkte riool vloei nou in paaie rondom die verwerkingsdamme.

Die verval en agteruitgang van Mogale City se eertydse inkomste-genererende projekte onder ANC-beheer is onaanvaarbaar.

Inwoners betaal ten duurste vir ʼn wildtuin, sportstadion en rioolsuiweringsaanleg wat gelos word om te vergaan.

Die ANC beskik nie oor die vermoë om enige munisipaliteit suksesvol te bestuur nie en kiesers het met die komende plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan en ʼn sterk boodskap te stuur dat die verval nie langer geduld sal word nie.


Navrae: 082 806 7891

 

MogaleCityTjaartSteenkampBobVanReenenStadionMunisipaleEiendomKrugersdorpWildtuin

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!