Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, versoek om dringend in te gryp by ‘n onwettige grondbesettingaksie in die Emfuleni-munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging).
Sowat 400 onwettige strukture is op munisipale grond opgerig waar plakkers in haglike omstandighede woon sonder enige munisipale dienste.
Die VF Plus is ook besorg oor ‘n ander grondbesetting-geval waar tientalle plakkers hulle op sewe kleinhoewes in De Deur, Midvaal, gevestig het. Grondeienaars is bekommerd dat die besetters kan vermeerder en onwettige grondbesetting na aangrensende privaatgrond mag uitbrei.
Die VF Plus het die gebied besoek en die aangeleentheid met die Midvaal-burgemeesterslid van ontwikkeling en beplanning, M. Motsamal, bespreek. Die burgerregte-organisasie, Afriforum, het ook hulp aan die eienaars aangebied.
Die VF Plus is van mening dat owerhede en howe meer toeganklik moet wees vir grondeienaars om onwettige grondbesetters van hul eiendom te verwyder aangesien baie eienaars nie die nodige fondse het om duur regskostes aan te gaan nie.
Navrae: 066 010 1066