VF Plus vra ingryping om rioolstorting in Witrivier-natuurreservaat te voorkom

2021-11-23
Freddy Robertson

Die VF Plus in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier) het hom tot Mpumalanga se provinsiale departement van landbou en omgewingsake se Groen Skerpioene gewend om rioolbesoedeling in die Witrivier-natuurreservaat te ondersoek.

In ʼn skrywe aan die departement se waarnemende LUR, Busisiwe Shiba, versoek die VF Plus dat die Groen Skerpioene die besoedeling dringend moet ondersoek en die munisipaliteit beveel om die nodige regstellende stappe te neem om ʼn volhoubare oplossing vir die probleem te vind.

Die besoedeling van die Witrivier-natuurreservaat hou nie net ʼn bedreiging in vir die gesondheid van omliggende gemeenskappe nie, maar ook vir die voortbestaan van die bedreigde plantspesie die Aloe Simii wat slegs voorkom in ʼn baie klein natuurlike geografiese gebied vanaf Sabie suidwaarts tot by Witrivier en om Mbombela.

Die aalwyn se natuurlike habitat is reeds weens die uitdroging van sy vleilandhabitat, aangrensende plantasies, waterontginning, indringing van uitheemse plante en verstedeliking onder druk.

Dit is onaanvaarbaar dat die Mbombela-plaaslike munisipaliteit na vele klagte oor die rioolbesoedeling in die reservaat tot op hede nie opgetree het om dit te voorkom nie.

Rioolpompe word nie onderhou nie en ontbreek onderdele. Dit lei daartoe dat onverwerkte riool stelselmatig in die omgewing uitlek en uiteindelik in die Krokodilrivierstelsel opgeneem word.

Volgens die Handves van Regte moet die omgewing beskerm word ter wille van huidige en toekomstige geslagte deur besoedeling en ekologiese agteruitgang te voorkom en die VF Plus sal druk plaas op die munisipaliteit om sy verantwoordelikheid na te kom en die onderhoud en vervanging van kritieke infrastruktuur as prioriteit te hanteer.


Navrae: 066 245 3282 / 066 376 3329

 

RioolbesoedelingMbombelaFreddyRobertsonWitrivierNatuurreservaat

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!