VF Plus-voorstel aanvaar om rehabilitasiegeld van R17,5 miljard vir verlate myne in Mpumalanga aan te wend

2022-11-21
Werner Weber

Die VF Plus se voorstel in Mpumalanga se provinsiale wetgewer om opgehoopte gelde van sowat R17,5 miljard vir die rehabilitasie van verlate myne dringend in die provinsie aan te wend, is aanvaar.

Hierdie geld kan nie vir rehabilitasie gebruik word terwyl 'n myn nog in werking is nie. Die departement van minerale bronne (DMR) kan dit wel gebruik wanneer 'n myn verlaat word.

Die departement het dit nog nie in Mpumalanga gedoen nie. Die meeste myne word nie as wettig gesluit beskou nie en die geld kan daarom nie gebruik word nie.

Finansiële voorsienings vir rehabilitasie word deur maatskappye in plek gestel voordat mynbou begin, ingeval 'n myn verlaat word en die regering moet ingryp om dit te sluit.

Maatskappye regoor Mpumalanga hou byna R17,5 miljard in finansiële voorsienings. Dit dek net minder as 6 000 prospekteerregte, mynpermitte en mynregte.

Die voorsienings – kontantwaarborge, bankwaarborge en mynsluitingstrustfondse – moet deur die DMR gehou word.

Die fondse word eers aan 'n maatskappy terugbesorg wanneer dit aansoek doen daarvoor en 'n sluitingsertifikaat van die DMR ontvang, wat oorblywende aanspreeklikheid van die maatskappy verwyder.

Die DMR se kantoor in Mpumalanga is verantwoordelik vir 30% van die land se finansiële voorsiening. Tog het hy tot dusver net meer as 1% van die sluitingsertifikate wat tussen 2011 en 2016 toegestaan is, uitgereik.

Van die 445 sluitingsertifikate wat landwyd uitgereik is, was slegs ses in Mpumalanga, waarvan nie een vir steenkoolmyne was nie.

Ongerehabiliteerde myne loop die gevaar om die water van miljoene inwoners van Mpumalanga te besoedel. Mynafval wat aan die elemente blootgestel word, kan die suurgehalte van water en grond verhoog.

Bekend as suurmyndreinering, kan dit water onbruikbaar en die grond onproduktief laat en munisipale infrastruktuur wat vir waterlewering gebruik word, korrodeer.

Die VF Plus sal aanhou om druk hieroor te plaas. Die regering moet seker maak dat maatskappye voldoende finansiële sekuriteit verskaf vir die volle koste van steenkoolmynrehabilitasie.

Daardie fondse moet gebruik word om mynterreine skoon te maak nadat mynbou gestaak is. Maatskappye wat versuim om dit te doen, moet tot verantwoording geroep word.

WernerWeberMpumalangarehabilitasiegeld#Myne

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!