VF Plus verwelkom vervolging en inhegtenisneming van drie Sanparke-werknemers oor renosterhoring

2020-10-27
Mnr. Werner Weber

Die VF Plus verwelkom die inhegtenisneming van drie Sanparke-werknemers wat vandeesweek met 'n stel pas gestroopte renosterhoring in hul besit gevind is. Al drie staan tereg op ʼn aanklag van renosterstropery in die Nasionale Krugerwildtuin.

Twee van die verdagtes is veiligheidswagte, terwyl die derde in die tegniese dienste-afdeling van 'n ruskamp werk.

Die inhegtenisneming stuur 'n sterk boodskap uit aan amptenare wat na bewering by stropery betrokke is dat hulle met die volle mag van die gereg te doen sal kry indien hulle hul skuldig maak aan hierdie soort misdaad.

Die VF Plus dring aan op ‘n swaar vonnis indien die persone skuldig bevind word om as afskrikmiddel te dien vir ander voornemende stropers.

Oor die afgelope paar maande het wetstoepassers verskeie inhegtenisnemings gemaak as deel van ʼn omvattende optrede teen stroping. In die laaste kwartaal het Sanparke sestien vermeende stropers in die Nasionale Krugerwildtuin in hegtenis geneem en beslag gelê op sewe swaarkaliber-gewere. Altesame 410 stroper-aktiwiteite is waargeneem.

Ongelukkig is 166 renosters steeds in die eerste helfte van 2020 gestroop en hierdie inhegtenisnemings is van kritieke belang om dié bedreigde spesie te bewaar.


Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830

WernerWeberMpumalangaKrugerwildtuinRenosterstropers

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!