Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus verwelkom regering se beginselbesluit om die Artikel 100-administrasie van Noordwes uit te faseer

Die VF Plus verwelkom die regering se beginselbesluit om die Artikel 100-administrasie in Noordwes uit te faseer.

Die interministeriële taakspan wat gevorm is om toesig te hou oor die regering se ingryping in die administrasie van Noordwes se provinsiale regering, het die besluit vandag bevestig in ‘n vorderingsverslag wat in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) in die parlement ter tafel gelê is.

Die verslag toon egter ook duidelik aan dat die probleme in die provinsiale administrasie, selfs ná vier jaar se administratiewe toesig, ver van opgelos is.

Die verslag maak dit duidelik dat die VF Plus se herhaalde standpunte en kritiek op die Noordwes-regering, en die ondoeltreffendheid van die nasionale regering se pogings tot ingryping in die provinsie, grondig was.

Hierdie tydperk is verál gekenmerk deur konflik tussen die provinsiale regering en die aangestelde administrateurs en die afwesigheid van verantwoordbare regering.

Dit het tot algemene onstabiliteit en die verval van moreel in die provinsiale administrasie gelei.

Die verslag belig ook weer die grootskaalse korrupsie en wanbestuur wat oor jare in die provinsiale regering geheers het.

Onreëlmatige besteding ten bedrae van meer as R12 miljard is reeds geïdentifiseer en talle forensiese ondersoeke is nog nie afgehandel nie. Vyf van die twaalf provinsiale departemente in Noordwes het in die 2020/21-boekjaar steeds gekwalifiseerde oudits ontvang.

Opvallend is ook dat die grootste deel van die onreëlmatige uitgawes verband hou met infrastruktuurprojekte.

Dit is ‘n absolute skande dat miljarde rande verlore gegaan het weens korrupsie en wanbestuur in ‘n provinsie wat swaar gebuk gaan onder die algemene verval van paaie en ander infrastruktuur.

Ook kommerwekkend in die verslag, is dat kritieke poste, skynbaar weens die provinsie se regstellende aksie (RA)-teikens, steeds nie gevul is nie.

Dit sluit poste in van skaars professionele beroepe soos siviele ingenieurs en argitekte. Dit is onaanvaarbaar dat hierdie ANC-regering só behep met sy rasseteikens bly ten koste van die belange van die gemeenskap.

Die verslag meld verder dat toekomstige oorsig oor regeringsake in Noordwes deur ‘n “post ingryping-moniteringsmeganisme” hanteer sal word om uitstaande sake af te handel. Die samestelling, mandaat en magte en bevoegdhede van só ‘n meganisme word egter nie vermeld nie.

Dit is belangrik dat verantwoordbare regering in Noordwes herstel word en dat die nasionale regering se duur en ondoeltreffende “administratiewe toesig” nie net in ‘n ander gedaante voortgesit word nie.

Die VF Plus sal bly fokus op die herstel van ‘n funksionele regering in Noordwes en die prioritisering van hulpbronne tot voordeel van die gemeenskap.

 

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.